DIT is amper ses weke weg van Kersfees en Solidariteit Helpende Hand se Oos Kaap-streek wil mense se Kerswense bewaarheid.
Vanaf 12 November tot 19 Desember kan mense iemand nomineer om ‘n wens waar te maak. Daar sal oor die volgende ses weke, 12 wense ter waarde van R1 000 elk laat waar word.
Dalk ken jy ’n bejaarde wat baie graag vir sy of haar familie wil gaan kuier, maar nie ’n vliegkaartjie kan bekostig nie.
Dalk weet jy van ’n kind wat ’n fiets benodig, maar die familie kan dit nie bybring nie, of ’n sopkombuis wat dringend nie- bederfbare voedselprodukte benodig of ’n ouetehuis wat komberse vir hul inwoners wil gee.
Wat ook al die behoefte is, jy kan daardie persoon of instansie nomineer om hul Kerswens tot en met die waarde van R1 000 te bewaarheid!
“Hierdie is Helpende Hand se kans om terug te gee,” sê Marlene Basson, streeksorganiseerder van die Oos Kaap-streek.
“Ons het heel jaar mense gehelp wat in nood verkeer. Nou kry ons egter die geleentheid om mense se drome waar te maak. Dit is ’n baie spesiale geleentheid.”
Só kan jy iemand nomineer:
Nomineer sommer dadelik iemand wat jy voel ‘n Kerswens verdien, maar dit nie kan bekostig nie.
Persone wat vir die Kerswens genomineer word moet in die Oos Kaap woon en slegs versoeke wat per epos gestuur word aan marlene@helpendehand.co.za sal oorweeg word.
- Vir meer inligting kontak gerus vir Marlene Basson op 083 501 3166 of stuur ’n epos na marlene@helpendehand.co.za