RUIM op! Dit is vanjaar die projektema van VLV Kaapland met die doel om die gevare van besoedeling teen te werk en herwinnings- projekte te ondersteun.
Plastiek is die grootste vernietiger van seelewe in oseane wêreldwyd. Onder dié plastiek is koeldrankdoppies, strooitjies, stokkie-lekker-stokkies en oorpluisiestokkies van die grootste besoedelaars.
VLV-takke pak landwyd vanjaar dié stryd teen plastiekbesoedeling aan.
“Ons wil graag hê dat mense van Uitenhage en Despatch meer betrokke moet raak by herwinning. Plastiek is die omgewing se grootste besoedelingsprobleem,” sê Marietjie van der Walt van VLV Carpe Diem-tak.
Dié koeldrankdoppies moet in 2 liter koeldrankbottels gegooi word deur ’n klein opening bo teen die bottel se rand te sny.
“Dit neem ’n doppie ongeveer 100 jaar om te disintigreer en dan is dit nogsteeds deel van die aarde.”
Vir elke 2 liter koeldrankbottel vol doppies wat by die herwinningsfabriek ingehandig word, word R1 geskenk aan ’n instansie wat omsien na vroue en kinders wat slagoffers is van seksuele misdade.
Herwonne plastiekdoppies word gebruik vir die vervaardiging van tuinmeubels, loopplanke en verskeie ander items. Indirek dra dié herwinning by tot werkskepping.
Plastiek broodsakkieknippies word ook afsonderlik bymekaar gemaak vir ’n rolstoelprojek.
Alle ander herwinbare plastiek word ingesamel om die Mula-herwinningsprojek by Allanridge-gemeenskapsaal op Uitenhage te ondersteun.
“Elkeen van ons het ’n verantwoordelik-heid teenoor die aarde, ons moet ons deel doen al is dit op kleinskaal,” sê Van der Walt.
Twee-liter bottels vol doppies kan by die UD Express kantoor in Graaff Reinetweg afgegee word.
- Ander instansies op Despatch en Uitenhage wat gewillig is om as aflewerings- punte te dien van bottels vol doppies word versoek om Marietjie van der Walt te bel by 082 550 0887.