LOEIENDE sirenes en flitsende ligte deur Despatch het onlangs die dorp se inwoners omtrent laat regop sit.

Mense het selfs dié aksie op video vasgevang waarna dit soos ’n weghol-veldbrand op sosiale netwerke versprei is. Hierdeur het die verskeie rolspelers in die beveiliging van Despatch hul doel bereik om almal van ’n verskerpte veiligheidsveldtog bewus te maak.

Die veldtog is gereël deur die Sektor 2 polisieforum van Despatch wat bestaan uit vrywilligers wat dien as die “oë en ore” vir die plaaslike polisie.

“Die polisie kan nie altyd oral te wees nie. Daarom help ons as vrywilligers met patrollies en meld verdagte persone of optredes dadelik by die polisie aan,” sê Dewald Oelofse, lid van die Sektor 2 polisieforum en ’n organiseerder van die bewusmakingsoptog.

“In Desember is die misdaad-statistiek altyd hoër, veral inbrake en diefstal uit voertuie. So, ons almal vat hande hierdie feesseisoen om die dorp te patrolleer. Vir die kriminele wil ons sê, ons is reg en wakker en gaan nie misdaad duld nie, ook nie dronkbestuur nie.”

Oelofse sê die polisiëring werk hand-aan-hand met verskeie sekuriteitsmaatskappye soos Atlas, Zenith, ADT, Top Flight, en DCS sowel as die ambulansdienste Relay en Guardmed. Al hierdfie instansies het ingestem om deel te wees van die konvooi wat deur die dorp, onder begeleiding van die polisie en verkeersdepartement, gery het.

“Die publiek se reaksie was oorweldigend positief. Dit was goed om te hoor dat die mense sê daar is niemand wat kan saamstaan soos Despatchers nie.

“Dit was ’n groot sukses en beslis iets wat ons in die toekoms weer sal aanpak.”

You need to be Logged In to leave a comment.