WANNEER Chris Palframan (70) van Despatch se pyn ondraaglik raak, vat hy sy grassnyer en spring aan die werk.
“Gras sny is vir my lekker, dit hou my ge-dagtes weg van my probleme,” verduidelik die afgetrede sakeman en motorwerktuigkundige.
Chris moes al verskeie operasies in sy lewe ondergaan ná ‘n mislukte mantelvliesoperasie, hy was in ‘n ernstige motorongeluk en het in ‘n besering aan diens drie van sy linkerhand se vingers verloor. Sy maag is ook verwyder nadat maagkanker by hom gediagnoseer is, gevolglik kan hy net ’n bietjie fyn verwerkte kos soos sop eet.
“Ten spyte van al die ellende wat my man moes deurgaan, staan sy hande vir niks verkeerd nie,” sê sy vrou, Corrie.
“Hy geniet dit veral om gras te sny. Dit het alles begin toe hy ‘n stukkie gras aangeplant het vir ons hondjie en daarna aan die buite-kant van die erf ook gras geplant het. Die area wat gesny moet word, raak net groter en groter – dit lyk so mooi!”
Chris sê dit neem hom so twee ure om dié gras te sny.
Die ander liefde in sy lewe is Coke.
Die dokters het al baie geraas oor sy Coke-drinkery, sê Corrie. “Dan lag hy net en sê dit is sy suiker en energie en hy gaan nie ophou Coke drink nie. Ek drink glad nie Coke nie, net moerkoffie.”
Chris drink tussen twee en vier liter Coke per dag.
“Dokters bly vir my sê ek moet die Coke los. Maar as ek dit gaan doen, sal ek dood gaan. Weens my situasie sonder ‘n maag eet ek nie in die dag nie, net saans. So, die Coke gee my energie en vat my deur die dag,” sê Chris.
Maar wat hom regtig deur elke dag neem, is sy liefde vir Corrie.
Die Palframans is 48 jaar getroud. Die groot ironie is dat hulle mekaar ontmoet het nadat elkeen afsonderlik nog baie broos was ná ’n liefdesteleurstelling.
Corrie onthou hul eerste ontmoeting soos gister.
“Ek was tranerig en het in ‘n tuin op ‘n bankie gesit. Die volgende oomblik sien ek ‘n bruin skoen wat langs my neergeplak word. Toe ek opkyk, kyk ek vas in die mooiste blou oë agter ‘n deurmekaar blonde kuif.”
Net die dood sal hul skei, sê sy.
“En tot daardie dag sal ek na hom omsien. Ek doen dit nie omdat ek moet nie, maar omdat hy my alles is en ek baie lief is vir hom,” sê Corrie.
Dis sy groot liefde vir Corrie wat hom aan die gang hou, sluit Chris by sy vrou aan.
“Ek het ‘n baie, baie goeie vrou vir wie ek oneindig lief is. Op ’n stadium in my lewe kon ek nie eet of loop nie. Sy het my met ‘n teelepel gevoer en weer geleer loop.
“Dit is my vrou, die gras sny en Coke drink wat my aan die gang hou en hoop gee vir elke dag.”