Ná weke se onwettige ontbossing en oprig van informele huise naby Despatch, het die Nelson Mandelabaai-metro verlede Donderdag opgetree.

’n Klein groep amptenare het omstreeks 09:00 met vragmotors en stootskrapers inbeweeg om strukture af te breek en grondbesetters te verjaag.

Dit volg nadat grondgrypers op ’n stuk munisipale grond tussen die R75 en R367 by Despatch ingetrek het. Sedert die begin van November het dié mense die gebied begin ontbos deur drie plaaslike konstruksiemaatskappye vir hul stootskraperdienste te betaal.

Teen Dinsdag-oggend, 27 November, was die grondbesetters weer terug en druk besig om informele huise op te rig.

Margaret Befile, ’n gemeenskapsleier en een van die dryfkragte agter die grondgrype, het tydens die afbreek van die strukture gesê sy aanvaar nie die munisipaliteit se optrede nie.

“Ons gaan herbou. Ons gaan die polisie besig hou tot Desember toe. Totdat ek iets op skrif sien, sal ek voortgaan. Ek het nog geen hofbevel gesien wat ons van die grond verjaag nie.

Sy het haar voorgeneem om weer terug te trek en ’n huis op te rig.

Kapt. Gerda Swart, ’n polisiewoordvoerder, sê die situasie tydens die afbreek van strukture was onder beheer en die polisie het nie nodig gehad om op te tree nie.

By navraag het Mthubanzi Mniki, munisipale woordvoerder, gesê daar is 300 onwettige onvoltooide strukture afgebreek.

“Geen mense is uit huise gesit nie, want daar het nog niemand daar gewoon nie,” het Mniki gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.