DIE behoefte aan ’n rehabilitasie-fasiliteit op Uitenhage word versterk deur die lang lys van verslaafdes wat moet wag om by ’n staats-inrigting opgeneem te word.
Een van die groepe wat sterk voel oor ’n plaaslike rehabilitasie-fasiliteit is Turning Point Development Centre. Dié sentrum is by die Kamesh polisiestasie gevestig.
Jonathan Japhta is ’n berader by die sentrum, sê ’n rehabilitsie-fasiliteit op Uitenhage is dringend nodig.
“Hierdie area is ’n nes. Ek kom hieruit, ek weet en ek ken die sisteem. Smokkelaars het geld en goeie konneksies, daarom floreer hulle en teer op dwelmgebruikers,” sê Jonathan.
Bendes en dwelms
Gregory Grobbelaar was vir 26 jaar vasgevang in bende-aktiwiteite en dwelms. Op ’n Woensdagaand in Pappegaaistraat het die liefde wat hy daar ervaar het hom laat besluit om sy lewe te verander.
“Dit is net die Here se genade dat ek lewendig uit dié dwelmhel gekom het. Dit was nie ’n mooi lewe wat ek gelei het nie. Op my eie sou ek nooit daaruit kon kom nie,” sê Gregory.
“Ek was ’n Tik-kop. Vir maande aaneen kon ek nie in ’n spieël kyk nie, want dan sien jy waarvan die mense praat. Tik verander jou breinwerking, jy word ’n monster.
“Berading is nodig vir ’n verslaafde, maar geestelik is waar jy jou krag vandaan moet kry. As die versoekings kom, moet jy kan sê nee! Dit is ’n dag-vir-dag stryd, maar die oorwinning is groot.
“Ons vra die Here vir hulp. Hy daal nie op jou neer met ’n groot lawaai nie, Hy stuur mense oor jou pad om jou te help. Jonathan is oor my pad gestuur. Nou wil ek mense help wat oor my pad kom,” sê Gregory.
Volgens hom is daar ’n lang lys by die Uitenhage hospitaal en Rosedale kliniek van verslaafdes wat wag om opgeneem te word by ’n staats-inrigting.
“Shepherds Field is privaat. Al staats-fasilieit is Fort England en dit is vol. Daarom is ’n rehabilitasie-fasiliteit hier op Uitenhage ’n groot behoefte.
“Dit is sentraal vir ook die Noordelike Areas van die Baai, waar daar baie dwelmverslaafdes is. Bendes en dwelms loop hand aan hand,” sê Gregory.
Turning Point Development Center is gevestig in ’n houerkantoor by Kamesh polisie-stasie. Die sentrum bied verskeie berading- en motiveringsessies, sowel as ander sessies aan vir verslaafdes sowel as hulle geliefdes. Hulle werk ook nou saam met die Rosedale Kliniek sowel as die plaaslike polisiestasie.
- Die sentrum is Maandae tot Donderdae van 10:00 tot 15:00 oop. Vir meer inligting bel 073 360 7176, 079 999 4599 of 041 988 8791.
Vervolg vanaf p. 1