Watertrokke is gister vanaf Adelaide deur Gift of the Givers na Despatch gestuur nadat duisende mense in die omgewing al dae lank sonder water is.

Verskeie skole en ’n jeugsentrum moes gesluit word omdat toilette en waskamers nie gebruik kan word nie. Volgens die DA-raadslid vir wyk 52, Frans Swanepoel, is dit veral die inwoners van Wyk 41 in Daleview, Reservoir Hills en Khayamnandi waar baie van de skole se kinders woon.

Swanepoel het Dinsdag gesê “al ons smeekoproepe het op dowe ore geval en ons moes krisisbestuur toepas.” Volgens Swanepoel word duisende mense deur hierdie krisis geraak. “Ons kry ’n beperkte voorraad water met enkele watertrokke van die Nelson Mandelabaai Metro af. Daar is egter geen noodplan in plek en ook nie genoeg watertrokke nie. Dit is hartverskeurend om te sien hoedat klein kindertjies en bejaardes met 5-liter kanne sukkel tot waar hul huise is.”

Volgens Swanepoel is tenke in die dorp is lankal leeg en mense moet nou drinkwater aankoop om te oorleef. Mense kan ook nie bad en klere was nie en moet met duur water hul toilette spoel en kos maak. Water kos nou al R18 vir 5 liter en die inwoners kan dit net nie meer bekostig om water aan te koop nie.

Een van die moedelose inwoners van Despatch, Karin Nel, het ten einde raad die hulp van Gift of the Givers ingeroep. Volgens Swanepoel het die organisasie onderneem om vanuit Adelaide na Despatch te kom met watertrokke. “Die krisis het 11 dae gelede al ontstaan. Die Nelson Mandelabaai Metro het nie raad met die waterkrisis nie. Ook Joe Slovo-woonbuurt op pad na Gqeberha, is al meer as ’n week sonder water.”

Water word vanuit die Gariepdam met kanale na opvangsdamme by Addo gelei. Hierdie damme is vol. Die water gaan vandaar na suiweringswerke en na die pompstasies by Nooitgedacht. Vandaar word dit na Chatty Reservoir gepomp. Hierdie reservoir moet egter 40 persent vol wees, voordat dit na Reservoir Hills gelei moet word.

Omdat die reservoirtorings by Despatch baie hoog geleë is, word die nodige druk nie opgebou nie en kan daar nie water na die Endstraat-opgaartoring en die twee ander reservoirs naby die krematorium herlei word nie. Aanvanklik was net die hoogliggende areas op Despatch sonder water. Dit het egter nou al uitgebrei na verskeie ander woonbuurte soos Campherpark en Manor Heights.

“Ons kinders en ons bejaardes kry swaar. Die Metro steur hulle nie aan ons noodroepe nie. Hulle het nie kontrakte in plek om water na ons te stuur nie. Die enkele kere wat daar wel ’n trok kom, stop dit in die middedorp by die polisiestasie en moet mense kilometers ver per voet aflê met waterkanne.”

“Ek het vier diensgroepe van nagenoeg ’n duisend lede elk. Ons is paraat, maar die krisis is nou by omkeerpunt verby,” aldus Swanepoel. “Ons het ’n taakmag met verskeie loodgieters en vrywilligers ingespan om die kleppe na te gaan. Sonder die Metro se hulp kan ons egter nie hierdie krisis afweer nie.”
Op Sondag, 9 November het NMBM op sosiale media gesê dat daar steeds wateronderbrekings in dele van Despatch en Joe Slovo ondervind word.

“Deur foutopsporing wat ter plaatse gedoen word, het die spanne daarin geslaag om water in die Endstraat-opgaartoring aan te vul en die water vul sterk op. Ons het gesien dat die meeste gebiede oornag met kraanwater herstel is,” het die verklaring gelui. NMBM het verder Sondag gesê dat water in Reservoir Hills en dele van van Khayamnandi herstel is.

“Watertrokke word egter steeds ontplooi om met herstel te help. Ons vra om verskoning vir die ongerief en bedank inwoners vir hulle geduld terwyl ons probeer om hierdie saak op te los.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article