DIE 31ste jaarlikse Uitenhage Straatkarnaval word hierdie naweek deur die Uitenhage Rotariërklub aangebied en verskeie sepiesterre en gewilde sangers sal daar te sien wees.
Vanaf 12:00 vandag, sal ’n paar strate in die sentrale deel van die dorp gesluit word ter voorberei-ding van stalletjies en verhoë. Dié strate is Caledon-, Kerk-, Mark-, Dalystraat en Lanceslaan.
Die karnaval word jaarliks gehou om plaaslike nie-winsgewende instansies die kans te bied om fondse in te samel deur kosse of gebruiks-items te verkoop.
Môre om 12:00 begin die opskop en Suidooster-sepiesterre Eden Classens, Dean Smith, Marco September en Gntane Kusch sal daar te sien wees. Ander kunstenaars op die program is die gewilde Early B sowel as Stef the Hypnotist en plaaslike sangers Kobus Gouws, Kobayne Clan, Zuma the Beatboxer en Carina Rens.
Saterdag om 20:00 sal die feesligte amptelik aangeskakel word en die aand se vermaak sluit in DJ Cndo, Nadia Herbst en Wicus van der Merwe. Deur die dag gaan plaaslike sangers Carla & Heide, Skelem, Donna, Slice Palony en ander soos Chris Winterskind optree.
Ander aktiwiteite sluit in ’n reuse speelpark van Amusement for Africa, speletjies, treintjie wat deur die karnaval ry en ’n speelarea vir kinders.
Veiligheidsbandjies vir kinders is gratis beskikbaar by die Rotariëers se inligtings-stalletjie.
- Die karnaval word deur die Uitenhage Rotariërklub aangebied. Vir meer inligting Mia Smit 072 457 1181.



