VOETJIE vir voetjie klim die dwergverkleurmannetjie hoër op teen die geelhoutboom se tak – dit lyk soos huiwer-skuifel, maar dit is sy vinnigste.
In die nabyheid ry ’n gedierte van ’n ander soort stadig – beslis nie sy vinnigste nie – oor vroegdagsonkolle tussen die slaapskadus van die hoë bome voor Marilyn’s Diner in die Tsitsikamma-dorpie Stormsriver Village.
Eenkant op ’n afgekapte boomstomp, met die nag se donker nog diep in die groen van die inheemse bos, sit Sêratjie, die driebeen dorpsbobbejaan. Sanparke se bosmonitors het haar vroeër uit ‘n strik gered, maar haar linkervoorbeen het wel in die slag gebly.
Sy hou alle bewegings dop. Haar nabymekaar ogies mis niks, selfs nie die geskuifel van die bos se dwergverkleurmannetjie nie. Ook nie die gedierte met sy beneukte vooraansig en diep enjingrom wat al nader na haar aangery kom nie.
Dié gedierte is die kragtigste Golf ooit wat uit Volkswagen se stal vrygelaat is. Met sy gewillige 2.0 viersilinder-turboenjin bied hy 228kW (15kW meer as sy voorganger) en 400Nm – pure rysensasie.
Droomkar
Skuins voor Sêratjie stop ek om die bosgids, Hainey Jacobs van Stormsriver Adventures, op te laai. Hy is in die sewende hemel. “Sjo! Dis mos ‘n man se droomkar … hierdie Golf R! Ek het gehoor van hom, maar nog nie een gesien nie. Wat nog om in een te ry!”
Die jongman wat die bos soos die palm van sy hand ken, se gesig helder op toe hy by die pasassierskant inklim. Drome moet nou waar word, dus tráp ek die Golf R se lepel. Die lanseerbeheer werk briljant en die 7-spoed DSG dubbelkoppelaarratkas neem oor.
Hainey se oë rek. Sy glimlag het nie plek vir woorde nie. Uiteindelik kom hy tot verhaal … “Wragtag! Die kar se krag het my maag nou op die agter seat laat ry. Eendag, eendag ….”
Blitsvinnig
Die Golf R mors net 4.6 sekondes om sy naald by 100km/h te kry. Dié blits is gemaak vir mense wat hou van kragtige enjins, spoed en gemak (en natuurlik dié wat dik beursies het).
Met dié padtoets was die brandstofverbruik ‘n gemiddeld van 8 liter/100km.
Die Golf R 2.0 TSI DSG 4 Motion is ‘n flambojante kar. Die ontwerpers het subtiel, tog beslis, die blertse blou van die R-handelsmerk in die bakwerk en interieur ingewerk.
Naam sê alles
‘n Naam sê mos alles. Dit skep stories en bring emosie. Name is bakens in ‘n mens se lewensreis. Dié naweek was dit Tsitsikamma, Fynbos-hoek, Sêratjie, geelhout, Stormsriver Village, Hainey Jacobs … én die Golf R.
Titanium brompype
Die nuwe Golf R se binneruim en ontwerp is basies dieselfde as sy voorganger met al die nodige luukshede.
Vir ’n windgat groet na ‘n naweekkuier in Stormsriver Village, trap ek die versneller diep in. Khûdoff! Khûdofff! grom die Golf R se dubbel Akrapovic titanium brompype oombliklik. Dié nuutste tegnologie in uitlaatstelsels is uiters gewild in Europa waar verskeie sportmotors met dit toegerus is.
Ek kon myself nie weerhou van die windgat Racing ratkas-opsie nie.
Met elke ratoorskakeling op die snelweg op pad terug Baai toe, klink die kenmerkende Khûdofff! Khûdofff! weer op.
Jy kan natuurlik ook die ekonomiese of individuele ratkasopsies kies, maar hoekom ry jy dan die Golf R?
Dit klink (én voel) behoorlik soos ‘n gespierde vierwiel gedierte wat uit die bos losgelaat is en losteuels die oop pad kafdraf.
Die Golf R, waarmee ek die padtoets gedoen het, gaan jou R676 500 uit die sak jaag. Sy mededingers op die pad: BMW M140i Sport Steptronic en Audi S3 Sportback 2.0 FSI S tronic.