‘n DELIKATE operasie is Maandagoggend op ‘n gevlekte ooruil se vlerk uitgevoer nadat ‘n booswig in Van Riebeeckhoogte, Uitenhage dié beskermde voëlsoort verlede Vrydagaand geskiet het.
Arnold Slabbert van Wildline, ‘n stedelike kleinwildbewaringsgroep sê dié skieter het verskeie wette oortree.
“Dit is ‘n ernstige misdryf in terme van die natuurbewaringwet,” sê Slabbert.
“Die idioot gaan les opsê as hy gekry word en hy kan selfs toegesluit word vir wat hy gedoen het.
“Uile is beskermde voëls en mag glad nie gejag of geskiet word nie. So, dit is onwettig en klaar! Daarmee saam is ‘n klomp ander potensiële klagtes wat gelê kan word teen dié kalant!”
Daar is aanvanklik vermoed dat die uil deur ‘n voertuig getref is, maar X-strale deur dr. Matthijs Ravensberg van die Mount Croix dierehospitaal in Port Elizabeth, het bevestig dat die voël wel geskiet is.
“Tydens die lang operasie van ’n uur-en-’n-half is die windbukskoeël met ’n koperpunt verwyder. Daar is twee vlerkbeentjies gebreek.
“Gelukkig kon pennetjies in die beentjies gesit word, maar dit was definitief nie ’n maklike proses nie. Die grootste probleem is wanneer ‘n vlerk gebreek is by ‘n gewrig. Dankie tog dit was nie so in dié geval nie,” sê Slabbert.
“Volgens die ballistiese eenheid van die polisie kan dié koeël terugverwys word na ’n wapen, as die wapen gekry word.
“Dit was ‘n ouer kaliber windbuks, want die koeël is nog in die vlerk. Die skade is dus minder as ‘n moderne windbuks se slaankrag waarvan die koeëltjie deur die vlerk gaan en dit flenters skiet.”
Bongani Ketse van die Uitenhage Dierebe-skermingsvereniging het verlede Vrydag ‘n oproep ontvang dat daar ‘n beseerde uil in Van der Stellaan in Van Riebeeckhoogte is.
Hy het die uil na die Uitenhage Diere- kliniek geneem waar dr. Nicolene Boshoff dit gestabiliseer en Slabbert in kennis gestel het van die voorval.
Slabbert het die uil na die Mount Croix dierehospitaal geneem.
“Die uiltjie lyk taamlik all right na die operasie. Ons hoop nou die herstelproses sal goed afloop. Daar is maar altyd ’n risiko, maar ek glo vas die uitkoms gaan positief wees.
“Ek wil net weet wie de d….r het die uil ge-skiet en hoekom! Die mense wat daar rond bly moet weet want die uil kon nie ver vlieg vanwaar hy geskiet is nie,” sê Slabbert.
Deirdre Swift, bestuurder van die Uitenhage DBV sê, “Dit is absoluut wreed teenoor die uil en dit is ook teen die wet. So iets is nie toelaatbaar nie!”
Die uil is nou, na die operasie, in die veilige bewaring by Slabbert se Wildline rehabilitasiesentrum, waar dit hopelik goed gaan herstel om spoedig weer vry in die natuur rond te vlieg.
- Enige persoon wat oor inligting beskik oor die persoon wat die uil in Van Riebeeckhoogte geskiet het, word versoek om Deirdre Swift van die DBV te bel by 083 415 5181 of 041 992 3016.