Gesoek: breiers en wol vir koue

Solidariteit Helpende Hand se takke in Despatch en Uitenhage benodig dringend wol en vrywilligers wat kan brei of hekel om te sorg dat behoeftige mense teen die winterkoue gepantser word.


Marlene Basson, Alida Frier (wie 80 gebedsbeertjies namens die tak gebrei het vir kankerpasiënte) en Marieta Stander, ’n vrywilliger by die Helpende Hand Despatch-tak. Foto:VERSKAF

Solidariteit Helpende Hand se takke in Despatch en Uitenhage benodig dringend wol en vrywilligers wat kan brei of hekel om te sorg dat behoeftige mense teen die winterkoue gepantser word.

Benette Rautenbach, projekorganiseerder van Helpende Hand se Breinaald-inisiatief, sê die doel van dié projek is nie net om die koue te verdryf nie, maar ook om vrywilligers, veral bejaardes, die geleentheid te gun om ’n direkte verskil in hul samelewing te maak.

“Bejaardes het steeds waarde. Die vrywilligers kan die hele jaar lank brei en Helpende Hand sal koördineer dat die gebreide of gehekelde items by hulpbehoewende mense uitkom,” sê Benette.

Marlene Basson, Streeksorganiseerder vir Helpende Hand in die Oos-Kaap, sê enigiets van mussies, serpe, kouse, handskoene, komberse, truie en selfs speelgoed kan gebrei word.

Despatch-tak het onlangs 80 gebedsbeertjies gebrei en uitgedeel aan kinders wat gediagnoseer is met kanker en behandeling ontvang.

Wolskenkings kan by die Ons Winkel takke op Despatch of Uitenhage afgegee word. Vrywilligers kan ook wol daar gaan afhaal en die gebreide of gehekelde items weer daar aflewer.

  • Vir meer inligting oor die items wat gebrei kan word, bel Marie du Preez (Despatch Ons Winkel Bestuurder) by 083 681 6428 of Miempie van Wyk (Uitenhage Ons Winkel Bestuurder) by 081 798 0190.

You need to be Logged In to leave a comment.