GERTJIE de Jager is nie op sy bek geval nie. Hierdie man kan sing en as radio-omroeper ’n hond uit ’n bos gesels. Dit is dié spraaklustigheid van hom wat gemaak het dat hy nou in die rofstoeikryt gaan beland!
“Dit het alles twee jaar gelede begin toe rofstoeiers my begin gora-gora het as die maer outjie met die groot bek. Toe daag ek een van hulle uit vir armdruk. Voor ek van iets beters kon weet druk die ou my amper regdeur ’n staaltafel,” sê Gertjie de Jager, bekende Luister!FM radio-omroeper.
“Dit was baie seer. My lyf het gesê defend jouself, maar my bene het gesê môre, nie vandag nie. Daarna het dit ’n gespot geraak wat eintlik maar op boelie neergekom het.”
Die armdruk het Gertjie nie die skrik op die lyf gejaag nie. Kort daarna kon die stoeikryt-toue nie sy geesdrif as ondersteuner van die stoeier Monré Lee keer nie.
“Wragtig, voordat ek wéér van beter kon weet was ek in die kryt! Ek wou Monré help, want dit was vir my onregverdig dat drie ouens hom pak. ’n Skop het my getref en dit was die einde van my reddingspoging.”
Toe gebeur die ding wat Gertjie nou wettig in die kryt laat klim. Xtreme Wrestling Entertainment sê “jy bly stil langs die kryt óf jy klim in as jy dan so grootmond is”.
Gertjie het gestoei met dié ultimatum tot die dag wat ’n seun vir hom gesê het, “Oom dit is so cool dat oom opgestaan het teen die boelies.”
Tóé weet Gertjie van beter en besluit, dan gaan hy inklim en stoei vir almal wat ook voel hulle word geboelie. Nou is hy ’n ambassadeur vir Bullied and Survived.
“As jy geboelie word, gaan dit nie noodwendig om terug te baklei nie. Ook nie om in ’n hoekie te gaan sit nie. Onthou, die fout lê by die boelie nie by jou nie.
“Raak ’n beter jy en maak ’n verskil in jou lewe. As jy geboelie word omdat jy vet is begin gesonder leef, as jy geboelie word omdat jy maer is, gaan gym toe!”
Gertjie is drie maande tyd gegee vir voorbereiding voor sy debuut stoeigeveg wat op Vrydag, 26 Oktober op die Despatch rugby-veld gaan wees as deel van die dorp se Opskopfees.
“Ek is nou in maand twee by Buff Bodies en het reeds 10kg opgetel. Wat awesome is, is dat dié gym en Nutritech my ondersteun in my veldtog teen boelies en ek is ook ’n ambassadeur vir hulle.”
Wayne Meyer, eienaar van Buff Bodies sê, “Gertjie het nog nie ’n yster gebuig nie, maar dit is lekker om hom te kan help. Ons is sy borg en dié stoeiery gaan vir ’n goeie doel. Ons gaan almal daar wees om hom te ondersteun.”
Gertjie word afgerig deur liggaamsbouer Ricardo Barnard wat sê, “Hy het baie sterker geword en is gemotiveerd. Ons fokus veral op spierbou en hoë intensiteit-oefeninge.”
Monré Lee en Dixen Rage help Gertjie met die rofstoei-tegnieke.
“Alles gebeur met ’n rede. Hierdie hardegat-ding in my het my op ’n punt in my lewe gebring waar ek nou ’n verskil in wil maak vir mense wat geboelie word.
“Ek voel goed en gesond en sommer baie gelukkiger met my lewe. Ons almal het ’n doel hier op aarde, soms word jy geboelie om agter te kom presies wat dit is,” sê Gertjie.
“Ek wag nou vir die 26ste Oktober … ek gaan in daardie kryt klim vir en met die ondersteuning van almal wat geboelie word. Daai ouens is sterk, Dirty Angel bench press sommer ’n Fiat Uno. Maar watch my en wees daar … I am not going to be a champion … but I am going to stand my man, whether I break my bones or not.”
Die XWE stoeiers wat vanaf 19:00 in aksie gesien gaan wees by die Opskopfees is War Lock, Dirty Angel, Monré Lee, DMS, X-Cyro en Gertjie.
- Kaartjies vir die rofstoei is R50 (voor om die stoeikryt) of R30 vir gewone staanplek en is beskikbaar by www.westway.co.za of www.xwe.co.za.