Gertjie in die stoeikryt ‘teen boelies’

BOELIES gaan bloedneus kry met ’n nuwe veldtog wat deur radiopersoonlikheid Gertjie de Jager aangepak word.


BOELIES gaan bloedneus kry met ’n nuwe veldtog wat deur radiopersoonlikheid Gertjie de Jager aangepak word.

Om die veldtog bekend te stel gaan De Jager die brawe ding doen deur in die XWE Rise of Champions stoeikryt te klim. Dit is deel van die Despatch Opskop Fees se program.

“Kinders weet wat ’n boelie is. Maar hulle weet nie wat om te doen as hulle geboelie word nie. Dit is hartseer as skole nie optree en ouers nie betrokke raak nie.

“In sulke gevalle wil ek daar wees om só ’n kind te help. Ek wil die buddy wees wat hom of haar help,” sê De Jager, wat ook be-kend is vir sy liedjie Ou Buddy Ou Pjel.

Verskeie voorvalle waar kinders by skole en selfs op sosiale media geboelie is het vanjaar die nuus gehaal. Daar was selfs kinders wat selfmoord gepleeg het weens die aanhoudende teistering deur boelies.

“As kind is ek geboelie. So, ek weet waarvan ek praat. Dit laat jou gebroke. Jy wonder wie en wat jy is want ’n boelie skel jou allerhande goed toe. Jy is happy, maar die boelie sê jy is vet of maer en jy kan nie happy wees nie. Ironies is ’n boelie die een wat nie happy is nie. Daarom probeer hy ander verneder en seermaak.”

Om hierdie redes het De Jager besluit dat hy sy debuut-stoeivertoning teen boelies wil aanpak.

“Kry ek seer is dit fine. Vir my gaan dit nie oor wen of verloor nie, maar om elke keer op te staan.

“My oupa het altyd gesê, wees die beste wat jy kan wees – en dit is om jouself te wees,” sê De Jager.

XWE Extreme Wrestling bring hulle hele stoeispan om ’n vertoning te lewer tydens die Despach Opskop Fees. Húlle doen dit ter nagedagtenis aan Leah, De Jager se dogtertjie wat vroeër vanjaar oorlede is.

“Dit gaan fenominaal wees. Ek is in ’n ses-man kragmeting saam met Monré Lee en DMS teen Warlock, X-Cyro en ’n ander verfgevreet wat ek nie ken nie.”

In die aanloop tot dié stoeiery gaan De Jager skole besoek om te praat oor boelies.

“Ek is selfs bereid om pouses by ’n kind te gaan sit wat geboelie word. Ek wil vir die kind wys hy of sy is nie alleen nie, hulle het ondersteuning.

“Al kan ek met hierdie veldtog net een kind wat geboelie word help, sal ek baie gelukkig wees. Maar eintlik wil ek almal help!” sê De Jager.

  • Die Despatch Opskop Fees word op 29 & 30 Maart by die Despatch Rugbyklub se sportvelde gehou. ’n Opskop Skouspel word op 30 Maart om 18:00 gehou waar 15 Oos-Kaapse kunstenaars onder die sterre gaan optree. Die XWE Rise of Champions stoei is Vrydag, 29 Maart om 19:00.

You need to be Logged In to leave a comment.