Geletterdheid gee bejaardes ‘nuwe lewe’

JOHANNA het op Ruiterbos in die Mossel-baai-distrik grootgeword. Sy het nooit skoolgegaan nie en op 12-jarige ouderdom begin werk.


JOHANNA het op Ruiterbos in die Mossel-baai-distrik grootgeword. Sy het nooit skoolgegaan nie en op 12-jarige ouderdom begin werk.

“In daardie jare moes die kinders drie-uur in die oggend met die melklorrie na die skool ry. Ek’t gesê nooit, ek sal nie so vroeg skool-loop nie. Nooit het ek besef wat ek oor myself uitgespreek het nie.”

Sy het wel later jare as huishulp, saam met die kinders wat sy opgepas het, geleer lees, maar skryf het nooit aan die beurt gekom nie.

Ivy, nog ’n vrou wat aangemeld het vir geletterdheidsklasse, sê sy wil leer, “omdat ek my Bybel wil lees.”

Haar dogtertjie is in graad 1 by Despatch Voorbereiding.

“Ons leer nou saam lees en skryf by die skool,” sê Ivy trots.

Ouma Siena (65), Michelle (26) en Abigail (16) is ook in die klas en kan glad nie skryf of lees nie.

Abigail sê sy het ander kinders gevra om haar te help, maar hulle het ’n bespotting van haar gemaak.

“My hart was seer, toe los ek alles. Maar ek wil my lewe nou regmaak. Ek wil lees en skryf soos die ander kinders.”

Die kurrikulum wat gevolg word is die alles-in-een-reeks.

Madeléne verduidelik dat die leerwerk baie sistematies uiteengesit word.

“Hulle leer eers klanke. As jy klanke ken, kan jy lees. Daardie klanke word dan geskryf. Om te leer lees is nie moeilik nie. Dit is in ’n mens, jy kort net leiding en hulp,” sê Madeléne.

“Ek is baie erg oor lees. As jy eers ’n kind gewen het om van lees te hou, gaan hy vir die res van sy lewe lees en sy kennis verbreed.

Madeléne kan nie uitgepraat raak oor die leergierigheid van haar volwasse leerlinge nie.

“Om te sien hoe dié vroue se lees- en skryfvermoeë elke week vorder is hartroerend. Ek sien ook hoe hulle selfvertroue toeneem.”

Die geletterdheidsklasse vir volwassenes word op Dinsdae en Donderdae van 11:00 tot 13:00 by Voorbereidingskool Despatch aangebied, en moenie vir ‘n oomblik dink die kinders sien nie die “grootmens-leerlinge” by die skool raak nie!

Johanna vertel met groot smaak hoe die buurvrou vir haar kom vertel het: “My kleinkind sê sy kry ouma Johanna so jammer, want met pouse het sy nie ’n maatjie wat met haar wil speel nie!”

’n Gradeplegtigheid sal aan die einde van die jaar vir die groep vroue gehou word nadat hulle hul graad 1 voltooi het.

  • Vir meer inligting oor die volwasse geletterdheidsklasse by Despatch Voorbereidingskool, bel Madeléne Sachse by 041 933 2544.

(VERVOLG VAN p. 6)

You need to be Logged In to leave a comment.