Fietsryers vat die pad vir kankerlyer

“Uitenhage en Despatch is die beste dorpe om in te bly! As jy mense nodig het, is hulle daar vir jou!”.


“Uitenhage en Despatch is die beste dorpe om in te bly! As jy mense nodig het, is hulle daar vir jou!”

Dit is die woorde van Johan Oosthuizen, bekende fietsryer van Fuel on Wheels, wat die een na die ander liefdadigheids-uitdaging op twee wiele aanbied.

Oosthuizen het verlede week op kort kennisgewing aangekondig dat ’n 147km retoer-trap verlede Saterdag vanaf Despatch na Jeffreysbaai en terug aangepak gaan word. Dit alles ten bate van kankerlyer Natasha Thysse van Uitenhage.

“Die dorp het ontplof en dit het my net weer laat besef hoe mense kan saamstaan en omgee vir ander. Ons het selfs vir ’n groot traffic jam gesorg! AlgoaFM en Luister!FM het selfs uitgesaai oor die 7km verkeersopeenhoping by Rocklands op pad na Jeffreys,” sê Oosthuizen.

’n Totaal van 64 fietsryers het verlede Saterdag uit Despatch vertrek, die meeste van dié deelnemers op bergfietse.

“As ’n ou op ’n bergfiets ’n langpad aandurf is hy taai want die afstand tel dubbel vir hulle. Ons ouens op padfietse was ver in die minderheid. So, ek haal my hoed af vir die bergfiets-ryers wat die uitdaging aangepak het want dit is eintlik amper 300km se trap vir hulle!”

Op pad terug, met begeleiding van vier verkeersmotors, was die hele Durbanstraat in Uitenhage en Despatch se hoofstraat vir 30 minute net vir die fietsryers. Van die 64 het 12 fietsryers die roete voltooi tot in Despatch, waar ’n erewag van motorfietse en ondersteuners vir hulle gewag het.

Dit was vir Oosthuizen ’n hartseer dag want hy het op pad na Jeffreysbaai ’n boodskap ontvang dat ’n hartsvriend van hom weens kanker gesterf het.

“Sjoe, dit het my geslaan. Ek was erg hartseer want daai ou het sy alles gegee om ander te help terwyl hy self baie siek was. My trane het gerol, maar die ryers was daar met hulle ondersteuning,” sê Oosthuizen.

“Baie, baie dankie van Fuel on Wheels se kant af aan al die fietsryers, borge en plaaslike besighede, verkeersdepartement, motorfietsryers, ondersteuners en publiek. Ons het tot dusver meer as R6 000 ingesamel en die geld kom steeds in.”

’n Dans word Saterdagaand 19:00 by Dans-kraal op Uitenhage vir Natasha aangebied en die publiek is welkom om daar ’n draai te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.