VIER bergfietswedrenne, drie veldwedlope sowel as drie tweekamp-uitdagings word op ’n plaas aan die voet van die Hanekamberg gehou om fondse in te samel vir die droogtegeteisterde Steytlerville boere.
Dié Cockscomb Classic word aangebied deur Buckaroo avontuursport met Hannes Horn, Bucklands-plaaseienaar, aan die stuur van sake.
Volgens Horn bevat die Cockscomb Classic al die eienskappe van ’n onvergeetlike avontuur op jou fiets of in jou hardloopskoene deur Karoo-veld en bergpaaie. Roetes is goed gemerk en die verskillende moeilikheidsgrade maak dit moontlik vir van avontuurlustiges tot minder fikse fietsryers en hardlopers om deel te neem.
Daar kan self op die plaas gekamp word want daar is warm storte en spoeltoilette. Ander aktiwiteite sluit in goeie musiek, goeie kos en goeie samesyn vir ’n goeie doel.
“Maak nie saak waaraan jy gaan deelneem nie, dit is alles vir ’n goeie doel. Elke deelnemer is ’n wenner want om deel te neem gaan jy ’n verskil help maak,” sê Horn.
Fondse van dié Cockscomb Classic is ten bate van die Steytlerville landbouvereniging se droogtehulpfonds sowel as vir die Droogtehulp met Burre Burger, ’n projek wat nie net voer nie, maar ook hoop bring vir boere.
Bergfietsroetes – Saterdag, 6 April:
.07:00 Cockscomb Conqueror (103km), tawwe uitdaging, R500/deelnemer.
.08:00 Cockadoodle (78km), R350, minder taai, mooi Karoo-roete.
.08:10 Broiler Bash (46km), vinnige roete vol uitdagings en mooi landskappe, R250.
.08:20 Hennebaloo (27km), maklike trap vir die nie-haastiges wat die natuur wil geniet, R150.
.08:30 Chicken Run (3km), vir die kleinspan, R20.
Veldwedlope – Saterdag, 6 April:
Al drie die veldwedlope begin Saterdag, 6 April om 07:50. Kudu (5.5km) R50/deelnemer; Kolgans (12km) R75 en Ratel (21km) R100. Stappers is welkom.
Tweekamp – Saterdag, 6 April:
Hennebaloo & Kudu (R200); Broiler Bash & Kolgans (R300); Cockadoodle & Ratel (R400).
Aktrise Dorette Potgieter en haar dogter Lia Luna Li gaan aan die Cockscomb Classic deelneem en gaan ook die prysoorhandigings doen.
Potgieter het ook gesorg dat DigiTV daar sal wees sodat die avonture regstreeks op internet gesien kan word.
Die plaas Bucklands is sowat ’n uur-en-’n-half vanuit Uitenhage (117km) met die afdraai (links) vanaf die R75 by Kleinpoort net voor Wolwefontein. Volg die grondpad vir ongeveer 29.5km.
Om op die plaas te kamp vir die naweek is R100 per persoon. Daar is ook ander akkommodasie op naburige plase en op Steytlerville, bel Hannes Horn vir meer inligting hieroor.
Om in te skryf of om die volledige program onder oë te kry gaan loer by www.bucklands.org.za of Buckaroo Events op Facebook.
- Vir meer inligting bel Hannes Horn by 082 497 2372 or e-pos cockscombclassic@gmail.com