Laerskool Innes se skoolhoof, Luana Bester, saam met leerders (agter van links) Elcke Haggard, Arno Nel, Gary Hanslo en Enrico Bezuidenhout. Voor is Jake Camberlege en regs is Hailey Meiring.

Foto: HEILIE COMBRINCK

Geen klaskamer sal onaangeraak bly nie. Elke gebreekte venster is reeds reggemaak. En elke leerder van Laerskool Innes se onderrig by dié skool sal ‘n positiewe en blywende impak op hul lewens laat.

Die energie en dinamika van Innes se eerste vroue skoolhoof, Luana Bester, het dié 116-jaar oue laerskool aan die begin van Junie soos ‘n tsoenami getref. Sy was voorheen die adjunkhoof sowel as waarnemende hoof van Bergsig Skool op Kariega.

Haar loopbaan se legkaartstukke het wyd gelê, maar met haar selfopgelegde uitdagings en kreatiewe denke het dit berekend en presies in plek begin pas vir dié hoogtepunt van haar loopbaan. Om ‘n skoolhoof te word, was sedert haar kinderjare haar groot droom.

“Dit is vir my ‘n groot uitdaging. Ek wil kultuur by Innes bevorder, dit moet dié kultuurskool van Kariega word. Hier is ongelooflik baie potensiaal. Ek kyk na die kinders en het al ‘n hele paar geïdentifiseer wat ek wéét, as hierdie kind op die verhoog kom, gaan die poppe dans!” sê Luana. Buiten om skoolhoof te wees, onderrig sy die graad 7’s in Kuns en Kultuur.

“Innes is ook ‘n baken van hoop. Die skool het ‘n LSEN agtergrond en dit is my grootste begeerte om ambagte weer in skole hul regmatige plek te laat bekom.”

Sy sê al die skool se ou houtwerkbanke en Singer-masjiene gaan afgestof en geolie word. “Ons kinders gaan op daardie banke leer houtwerk doen. En daar sal naaldwerk geleer word op daardie einste ou Singer-masjiene.

“Ja, dit is waar, dit wat jy nou doen, het miskien geen nut vir nou nie. Maar dit is vir die toekoms. Hierdie kinders is in hul vormingsjare, ons bou vandag vir dit wat môre kom.

“Innes is nie in kompetisie met ander skole nie, maar wat ons gaan doen, gaan ons goed doen, want hier is ‘n toegewyde span personeel en ongelooflike lojale ouers,” sê Luana.

Sy hou nie van ‘n plek wat net een doel dien nie. Daarom het sy die proses aan die gang gesit om die sonnige klubhuis in ‘n personeelkamer te omskep, en om die skoolbiblioteek weer sy regmatige plek te gee. Die personeelkamer sal haar ruim, kleurvolle kantoor word met konferensie-toerusting vir die skool se gebruik.

“Dit is wonderlik hoe die Here ‘n mens deur die jare voorberei. Ek sit met ‘n groot opgewondenheid in my oor Innes. Mense sê vir my ek moet dit stadig vat, want ek is mos vinnig van geaardheid, maar hier is soveel aspekte wat reeds op geoliede wiele hardloop en net ‘n goeie hupstoot nodig het.”

Sy sê haar lewensleuse is “Laat God se Koninkryk kom” en verduidelik dan verder:” Dit is nie my of die skool se koninkryk nie, ons kan so maklik ons eie koninkrykies bou. Ek weet as ek daardie lewensleuse toepas, sal al die ander dinge in plek val.”

You need to be Logged In to leave a comment.