In 2024 gaan die visie vlamvat. So sê Professor Billy Williams van die Doctoral Council of Pentecostal Churches in South Africa (DOCCSA) in Kariega.
Met meer as 220 kerke landwyd is DOCCSA reeds gevestig in elke provinsie in Suid-Afrika, en hulle is op ’n missie om uit te brei – en hulle gaan begin in Kariega, waar die visie ontstaan het.
Waar het dit begin?
“Ons het in die 18de eeu begin. Op daardie stadium was die naam die African Independent Churches Association (AIC),” het Williams vertel.
“Dit was saamgestel vir die self-regerende kerke in Suid-Afrika, kerke wat nie deur buitelandse sendelinge gevestig is nie. Dit was almal local mense wat dit gestig het, boorlinge van ons land.
“In daardie tyd het ons die Britse regering gehad. Hitler was by Namibië en hulle wou Suid-Afrika oorneem deur middel van ’n oorlog met die Britse regering. Die Britse regering het toe na kerke gegaan om hulle vir hulp te vra om die oorlog teen Hitler te veg. Almal het gesê nee, ons kan nie in oorlog deelneem nie, dis nie deel van ons visie nie.
“Maar toe hulle na die self-regerende kerke toe kom, het AIC hulle ingewillig en 5 000 predikante losgelaat om deel te wees van die oorlog.
“Maar daar was ’n ooreenkoms gemaak: as ons hulle help en ons wen die oorlog, dan gee hulle vir ons ons onafhanklikheid; dan onttrek die Britse regering uit die land uit. Dit was die ooreenkoms.
“En ons het die oorlog gewen. In die proses het baie van hierdie pastore en leiers van die beweging gesterf en die beweging is toe ietwat sonder ’n leierskap gelaat. Dit het vertraging gebring by die vooruitgang en die verdere groei van die beweging self.”
En die ooreenkoms is toe ook van vergeet. Tot nou toe.
“Ons soek net ons deel. Ons verlang om ’n groot hoofkantoor op te rig vir die self-regerende kerke in Suid-Afrika sodat ons opleiding kan gee aan kerke, en pastore kan voorberei vir die bediening.”
Sy pa se bediening het hom die pad vorentoe gewys
Billiy Williams het onwetend sy eerste tree vir die visie gegee toe hy hom in 1984 in die Here gevestig het.
In 1985 is hy gedoop, in 1986 het hy getrou en in 1990 is hy amptelik gesalf as pastoor.
“Ek het seker so 15 jaar in ’n kerkraad van my pa gewerk; dis waar ek die ervaring opgedoen het. En dis waar ek op die regte geskiedenis afgekom het. My pa se beweging was eintlik ’n wegbreek beweging van AIC,” het hy verduidelik.
“My pa is toe oorlede in 2007. In 2008 het ek gesê ons moet teruggaan na die oorspronklike visie toe.
“Ek is regtig opgewonde. Ek weet nie hoeveel tyd het die Here my nog gegee vir dit nie, maar ons hou aan, een tree op ’n slag.”
Van daar tot nou
Ná die oorlog het Open Doors International na die kerk gegaan om te kyk wie van die ouderlinge, die diakens voorberei kon word sodat hulle die nuwe leiers van die beweging kon word, vertel Williams.
Open Doors International is later verander na Timothy Projects en toe Timothy Training Institute, wat toe seker gemaak het die predikante word opgelei, is goed ingelig en hulle eie gemeentes verder kan bedien.
“In die laat 1980’s het daardie liggaam net verdwyn. Hulle wou nie instem vir die uitheemse leerstelling nie. Jy kon alleenlik befondsing kry as jy dit aangeneem het, soos die Anglikaanse kerke of die NG kerk. Daai lande sou jou alleenlik gehelp het as jy hulle bediening aangeneem het,” sê Williams.
“Maar hulle sal nie ’n eg Suid-Afrikaanse kerk op die been bring nie. Die ooreenkoms tussen die self-regerende kerke en die Britse regering – dit was toe nie eerbiedig nie. Ons is nou besig om uit te reik na Koning Charles om te onderhandel vir ons deel.”
Maar hulle is baie duidelik – die fondse sal nie die Britse regering enige seggenskap in DOCCSA gee nie.
“Die mensies hier weier om hulle independence oor te gee. Ons sal liewer die onafhanklike status behou, sonder fondse, en klein bly met die vryheid om te doen soos die Here ons lei, as om in te gee vir ’n buitelandse leerstelling wat ons gaan wegvat van ons manier van aanbidding.”
Die visie vir DOCCSA
Stap een is om die hoofkantoor van die grond af te kry.
Tans het DOCCSA ’n administratiewe kantoor in Johnstraat, Kariega, en ’n opleidingsentrum in Motherwell.
Planne vir die toekoms sluit in ’n DOCCSA Foundation wat weduwees kan ondersteun, uitreiking kan doen in die gemeenskap en na die kerke, en programme teen geslagsgeweld en tiener swangerskap kan meebring.
“Ons doen tans interne opleiding vir die pastore, gee hulle die basiese beginsel opleiding, preekkunde, help hulle om huweliksbevestigers te word om hulle eie mense te trou, opleiding in berading,” het Williams verduidelik.
“Daar is van die pastore wat al lank saamkom wat nie kan lees en skryf nie. Hulle word ingeskryf by ons geletterdheid program. Dan kan hulle ten minste hulle eie Bybels lees.”
Die opleidingsentrum, Zion Ministerial Institute, het hulle gebou by die departement van sosiale ontwikkeling in Motherwell 2015 ingeneem, maar van daar is dit sukkelend vooruit.
“Ons moes self die plek inrig, meubileer, en ons het nie hulp nie. Ons gee maar klein tree,” sê Williams.
Die opleidingsentrum gaan eindelik in 2024 verder uitbrei.
Vir die langtermyn wil DOCCSA ’n klein begrafnisskema vir hulle lede beskikbaar stel, vaste geboue beskikbaar stel aan die kerke wat lokale en klaskamers gebruik vir bediening. Toekomstige planne sluit ook ’n Christelike bank (en baie later ’n Christelike gemeenskap met sy eie skole, besighede, ens) in.
“As jy huidiglik sien waarheen die wêreld gaan, dan is daar amper nie plek vir die kinders van die Here nie. Ons wil daardie plekkie skep. Dis die langtermyn plan.”
Glo jy dit nie? Kom vind meer uit.
“Omdat die visie op Uitenhage (Kariega) begin het, wil ons ten minste begin deur hierdie gemeenskap in te lig oor DOCCSA. Ons is landwyd, maar ons het op Uitenhage begin,” het Williams gesê.
“Ek is opgewonde. Ek het oor die laaste sewe of agt jaar groot uitdagings deurgegaan om hierdie gedagte die hele land deur te kry. Ek sal graag wil sien dat hierdie visie nou uitgaan.
“Ons kan beyond a reasonable doubt be-wys dis die waarheid. Die storie is korrek. Dit kan in elke biblioteek in die land getoets word. As daar debatte gehou moet word, is ek gereed met my informasie, met my bewys dat wat ons sê is ons storie, is korrek.”
- DOCCSA se kantoor is geleë by 7 Johnstraat, Kariega. Vir meer inligting, kontak hulle op 060 568 7225 of stuur ’n e-pos na bwilliams.docsa@gmail.com.