DAAR is ’n skerp toename in dwelmge- bruik op Uitenhage. Ondersteuningsgroepe voel dié sosiale euwel moet gestuit word en daarom wil hulle ’n rehabilitasie-sentrum op die dorp vestig.
Een van die groepe wat sterk voel oor ’n plaaslike rehabilitasiesentrum is Turning Point Development Centre, ’n geregistreerde nie-winsgewende ondersteuningsgroep vir alkohol en dwelmverslaafdes.
Die sentrum is in 2017 gestig deur Dolores de Vos, wie se seun, Treveno Koopman op 28-jarige ouderdom gesterf het weens sy dwelmgebruik.
“My hart gaan uit vir families wat in dié dwelmhel vasgevang word. Die aggressie, leuens, manipulering en stelery is nie iets wat ons geken het nie. My kind was nie so nie, dwelms het hom so gemaak,” sê Dolores.
“Ek het baie keer uit onkunde opgetree, want ’n mens verstaan nie wat aangaan nie en weet nie wat om te doen nie.”
Hy was by Fort England sowel as Shepherds Field vir rehabilitasie.
“Elke keer as hy uitkom was hy vol vrees om terug te kom huistoe.
“Na sy dood het ek besef hoe belangrik ’n ondersteuningsgroep is waarbinne ’n gere-habiliteerde dwelmverslaafde kan inskakel.
“Hier is so baie soortgelyke gevalle op Uitenhage. Ons het hier ’n rehabilitasie- sentrum nodig, waar families hul geliefdes kan ondersteun,” sê Dolores.
Inwees by verkeerde pelle
Jonathan Japhta, ’n berader by die sentrum sê ook ’n rehabilitasiesentrum is nodig op Uitenhage.
Hy was ’n dwelmverslaafde en smokkelaar en is die afgelope 14 jaar skoon.
“Verwerping as tiener in my ouerhuis het my pad met dwelms laat kruis. Ek het gevoel hulle gee nie vir my om nie, maar by die stoute outjies was ek gewild.
“Ek het alles in my vermoë te doen om my familie seer te maak. Hoe meer hulle onttrek, hoe erger was die wrywing want ek moes geld kry om dwelms te koop,” sê Jonathan.
Hy het later dwelms gelos en as ’n smokkelaar in die dwelmnetwerk beland.
“Op ’n dag het ek besluit ek wil nie meer so lewe nie. Ek’t alles verloor en moes van vooraf begin. Dié keer nadat ek my lewe aan die Here gegee het.”
Jonathan sê meeste dwelmverslaafdes se probleme begin in hul tienerjare.
(Vervolg op p.2 )