Drie Brandwag-netbalspelers op pad na Mauritius

DIE voormalige netbalafrigter van die Proteas, Elize Kotze, het drie netbalspelers van die Hoërskool Brandwag gekies vir ’n uitnodigingspan wat eersdaags aan ’n toernooi in Mauritius gaan deelneem.


DIE voormalige netbalafrigter van die Proteas, Elize Kotze, het drie netbalspelers van die Hoërskool Brandwag gekies vir ’n uitnodigingspan wat eersdaags aan ’n toernooi in Mauritius gaan deelneem.

Brandwag se eerste netbalspan het vroeër vanjaar ’n afrigtingskliniek by Kotze se Raloka-landgoed, noord van Pretoria, bygewoon.

Twaalf van die land se topnetbalskole het die kliniek van vyf dae bygewoon. Die spanne is elke oggend deur Kotze afgerig en het in die middae teen mekaar gespeel om hulle nuwe vaardighede op die proef te stel.

Die toernooi is met ’n prysuitdeling afgesluit waartydens Brandwag se kaptein, Chanri Strydom, onderkaptein, Martelize Kruger en hoofdoel Elmarie Spangenberg as lede van Kotze se Elite Raloka-span aangewys het. Dis ’n enorme prestasie aangesien Kotze uit sowat 120 spelers kon kies.

Brandwag het onder meer teen die Hoërskool Pietersburg, die Hoër Tegniese Skool Middelburg en Hoërskool Zwartkop gespeel. In netbal tel Zwartkop as ’n topskool in Gauteng.

Die Brandwag-span het drie uit hulle vyf wedstryde gewen en ’n algehele vyfde plek behaal.

Die spanne het ook aan spanbou-aktiwiteite deelgeneem, na interessante sprekers geluister en die Protea-netbalspan se wedstryde op televisie gekyk.

You need to be Logged In to leave a comment.