DIE Hoërskool Despatch se 70ste bestaansjaar word vanjaar gevier en as deel daarvan word die skool se jaarlikse Sportfees op 8 en 9 Maart aangebied.
Dit is vanjaar die skool se 21ste Sportfees en wat nog meer glans aan die geleentheid gaan verleen is dat van die rugbywedstryde vir die eerste keer onder spreiligte gaan plaasvind.
Vrydag, 8 Maart se hoofwedstryd tussen Hoërskool Despatch en Hoërskool Cradock skop om 19:45 af. Saterdag, 9 Maart se hoofwedstryd tussen Hoërskool Despatch en Hoërskool Volkskool is om 17:45.
Vanjaar ding 32 skole mee. Daar is 49 rugbywedstryde, 78 netbalwedstryde en 42 wedstryde op die hokkievelde.
Dit is die vierde jaar wat die Sportfees by die skool se eie sportgronde aangebied word en die Drake is slaggereed om al die besoekende spanne te ontvang.
Die nagenoeg 7 000 mense wat die Sportfees bywoon, kan uitsien na ‘n professionele, geoliede aanbieding wat nie sal teleurstel nie.
First Choice en Despatch Superspar is die hoofborge van Hoërskool Despatch se 21ste Sportfees ter viering van die skool se 70ste bestaansjaar.