DIE ATKV Sonneblomtak op Despatch het dié dorp se bekende skrywer, prediker en kunstenaar, dominee Jan Vermeulen, vereer met ‘n gesogte Afrikoon-toekenning van die ATKV.
“Dominee Jan word vereer vir sy groot bydrae tot die Afrikaanse literatuur en talle boeke wat hy die lig laat sien het,” sê Anette Becker, voorsitter van die ATKV Sonne-blomtak op Despatch.
“Deur sy pennevrug wakker hy nie net jong mense se leeslus aan nie, maar bied puik leesstof aan Afrikaanse-lesers.”
Vermeulen se passie vir die skryfkuns het vroeg in sy lewe geblom toe sy eerste kortverhaal “Sneeuprins van Alaska”op die ouderdom van 14 reeds in die destydse jeugtydskrif, Patrys, gepubliseer is. Daarna het ’n hele rits boeke reeds die lig gesien en pryse soos die Sanlamprys, M.E.R.-prys, Scheepersprys en ‘n ATKV-kinderboektoekenning het gevolg.
Vermeulen se skryfwerk is sinoniem met jeugverhale en hy is ’n meester in dié genre.
Die Afrikoon-oorhandiging is waargeneem deur die voormalige ATKV direksie-lid Johan Fourie van Port Elizabeth. Tydens dié glansgeleentheid het Chezane Steynberg en Semandie Renkin die gaste vermaak met Afrikaanse musiek by die Barkly Bistro op Uitenhage.
– HEILIE COMBRINCK