Die Tiere skrik nie vir perdekrag nie

Daar is twee Tiere wat rowwe paaie ken en wilde draaie kan gooi en nie bang is vir perdekrag nie!.


Daar is twee Tiere wat rowwe paaie ken en wilde draaie kan gooi en nie bang is vir perdekrag nie!

Hierdie Tiere – sonder sterte en strepe – is twee veldwedrenjaers uit die stal van HTS Daniel Pienaar, die enigste skool in die Oos-Kaap wat motorsport as ’n buitemuurse aktiwiteit aanbied.

Alles het vyf jaar gelede begin toe Volkswagen Suid-Afrika ’n 1.4 VW Golf aan Daniel Pienaar geskenk het sodat die motorsport-rewolusies ook op skoolvlak aangejaag kon word.

Die onderwysers en leerlinge het dié geleentheid met ywerige toewyding aangegryp.

Intussen het VWSA nog ’n veldrenmotor – ’n 1.2 turbo VW Polo – aan DP geskenk.

JP Smit (18), ’n graad 12 leerder, is deesdae agter die stuur van dié polo en hy ding mee in die S5 klas.

Nog ’n enigste vir die skool is Britney du Piesanie (18) ook in graad 12, wat die jongste vrouerenjaer is wat aan die komende PE Rally se nasionale byeenkoms op 6 & 7 Julie gaan deelneem.

Sy ding met die skool se eerste skenking, naamlik die VW Golf, in die S1 klas mee.

“Ek wou dit nog altyd doen, ek kom van die plaas af en het daar met bakkiery grootgeword. Toe ek die kans by die skool kry om rally te ry het ek dit met albei hande aangegryp,” sê Britney.

Sy het ’n passie vir meganika en wil ’n dieselmotorwerktuigkundige word. “As die VW Golf breek, klim ek self onder die enjinkap in om te help regmaak.”

Die motorsport-onderwyser, Martin Kleingeld sê, Britney het ’n taamlike vuurdoop gehad want sy het vanjaar haar eerste veldwedren, die Heine Sport, in die nag gery.

JP het vyf jaar gelede vir die Tiere begin deelneem en hy deel sy liefde vir motorsport met sy pa, wat ook ’n veldwedrenjaer is.

“Joh … dis ongelooflik lekker! Onbeskryf-lik. Ek kan nie die ervaring om in die karre te ry, in woorde omsit nie,” sê JP.

JP en Britney sê albei musiek is belangrik vir hul geestelike voorbereiding vir ’n wedren.

“Ek het so lysie van musiek wat ek saamgestel het en hou baie van Tougher Than The Rest. Dit werk vir my,” sê JP.

Britney sê sy luister enige musiek “solank dit net nie daardie snaakse doef-doef musiek is nie.”

Wat die gevare van die veldwedrenne betref, sê JP dit is veral bome, “dit het al reguit op my afgekom, maar gelukkig het die kar toe gedoen wat hy moes doen!”

Britney sê die gevare van die sport het haar geleer hoe om situasies op die pad te hanteer, veral wanneer swak bestuurders rytoestande gevaarlik maak.

JP en Britney se navigators is Kleingeld en nog ’n onderwyser, Francois Vermaak.

4×4 Uitdaging – The Meadows

Om die twee karre op veldpaaie te hou en onkostes van deelname te dek, moet die skool se motorsport-afdeling woeker om geld in te samel.

Dit is ’n duur sport en die rande is nie ge-noeg om gereelde oefenritte toe te laat nie, sê Kleingeld. “Want as die kar breek moet dit reggemaak word en ons het nie die begroting daarvoor nie.”

Die volgende fondsinsameling is ’n viertrek-uitdaging by die bekende The Meadows in die Elandsrivier-vallei.

Alle viertrek-entoesiaste word uitgenooi (en uitgedaag) om op 16 Junie die wiele te laat draai na dié gesellige buitelug viertrek-avontuur.

  • Vir meer inligting oor die Tiere se motorsport of die 4×4 uitdaging in die Elandsriviervallei bel die skool by 041 922 9990.

You need to be Logged In to leave a comment.