Brandwag spog met matriekuitslae en twee besondere prestasies

Die Hoërskool Brandwag in Kariega se matriekklas van 2023 het die skool se naam op provinsiale vlak hooggehou met nie net een nie, maar twee besondere prestasies.


Die Hoërskool Brandwag in Kariega se matriekklas van 2023 het die skool se naam op provinsiale vlak hooggehou met nie net een nie, maar twee besondere prestasies.

Brandwag is Vrydagaand by die provinsiale prysuitdeling met die premier se toekenning vir uitnemendheid as die tweede beste skool in die Oos-Kaap aangewys. Ook is Brandwag se toppresteerder, Vian Schoombie, by dié prysuitdeling as die tweede beste matrikulant in die Oos-Kaap aangewys.

Vian het sewe A’s en ’n gemiddeld van 93,7% behaal. Hy het onder meer 100% vir Ingenieursgrafika en Ontwerp, 98% vir Wiskunde, 97% vir Fisiese Wetenskap en 96% vir Rekeningkunde.

Vian Schoombie van die Hoërskool Brandwag is as die tweede- beste matrikulant in die Oos-Kaap aangewys na afloop van die 2023-eindeksamen. By hom is Brandwag se skoolhoof, Steven Zietsman, met die premier-toekenning vir die tweede beste skool in die Oos-Kaap.

Brandwag spog nie net met ’n slaagsyfer van 97,8% nie, maar 76,6% van Brandwag se matrieks het die eindeksamen met toelating tot graadstudies geslaag. Altesaam 184 leerlinge het in 2023 by Brandwag die eindeksamen afgelê en 141 van hulle kwalifiseer vir verdere studies by ’n universiteit. Watter skool die premier se toekenning wen word deur die departement volgens ’n formule bepaal. Beide die slaagsyfer en die persentasie matrikulante wat toelating tot graadstudies behaal, word in ag geneem.

Ses Brandwagters het A-gemiddeldes behaal en ’n verdere 27 het B-gemiddeldes behaal. Die 2023-matrieks het altesaam 79 A-vaksimbole behaal. Die skool spog met twaalf A’s vir Engels, agt A’s vir Afrikaans, Wiskundige Geletterdheid en Besigheidstudies, ses A’s vir Rekeningkunde en vyf A’s vir Rekenaartoepassingstegnologie.

Die ander toppresteerders is Leanne van Tonder (85,7% en vyf A’s), Zaydi Rudman (83,7% en vyf A’s), Ané Louwrens (83,6% en vyf A’s), Ruan Watkins (81,6% en vier A’s) en Elke van der Smit (80,8% en drie A’s).

You need to be Logged In to leave a comment.