’n Polisielid wat die gevoel en greep in haar vingers verloor het nadat sy aangeval is, het vyf jaar ná haar ontbering die medaljes op ’n nasionale skietkompetisie ingeryg.
Lt.kol. Samantha Mclean (41) is in 2014 in haar huis op Despatch in die gesig, lyf en hande met ’n mes gesteek. Die dokters het gesê sy sal nooit weer ’n wapen kan afvuur nie.
Mclean, groepbevelvoerder van die Gelvandale-speurtak, het gesê sy was ná die aanval vasberade om haar vuurwapen op te tel omdat haar werk dit vereis. Sy het onlangs met ’n goue, silwer- en bronsmedalje weggestap op ’n nasionale skietkompetisie in Ladysmith, KwaZulu-Natal.
Polisielede van agt provinsies, insluitende lede van die weermag in KwaZulu-Natal, korrektiewe dienste en die Private Combat Rifle Association (PCRA) het teen mekaar meegeding.
Sy het goud in die 300 m-volgehoue vuur-afdeling en brons in die 300 m-snelvuur-afdeling van staande skietposisie met ’n R5-aanvalsgeweer gewen. Die Oos-Kaapse span, waarvan Mclean die enigste vrouelid was, het gesamentlik die silwermedalje gewen.
Kol. Michael Brand, haar mentor en vorige bevelvoerder by die Mountweg-polisiekantoor, het haar in 2016 aangemoedig om haar struikelblokke te oorkom. Hy het haar na die skietbaan in Addo geneem om te begin oefen en na die weermagbasis in Grahamstad vir uitdunne in die afdeling vir die R5-aanvalsgeweer.
Mclean het in dieselfde jaar die polisie se provinsiale skietspan gehaal en sy is in 2017 vir die nasionale span gekies.
Sy het goue en bronsmedaljes op die South African Combat Rifle Association (SACRA) se nasionale kompetisie in Bloemfontein gewen.
Weens werkverpligtinge kon sy nie in 2018 aan die nasionale kompetisie in Johannesburg deelneem nie, hoewel sy gekwalifiseer het in die 9 mm-pistoolkategorie.
Dié ma van twee seuns het in 2008 ook teëspoed gehad toe haar 18 maande oue seun by hul huis verdrink het. “Ek vergelyk enige negatiewe voorval of situasie wat ek teekom met die dood van my seuntjie. Niks is erger nie.”
“Moet nooit opgee voordat jy eers probeer het nie,” is haar leuse, sê Mclean.