=Hoërskool Despatch se eerste rugbyspan het daarin geslaag om vir die eerste keer in 24 jaar Brandwag te klop. Hier is die span by die telbord na afloop van die wedskryd. Foto:VERSKAF


NA ‘n wendroogte van 24 jaar teenoor Brandwag, was dit verlede naweek die mooiste eindfluitjie nóg vir Hoërskool Despatch se eerste rugbyspan nadat hulle daarin geslaag het om die eindtelling in hul guns te laat tel.

“Geskiedenis is gemaak deur ‘n span wat hard gewerk het en wat honger was vir ‘n groot wen,” sê Sakkie Vermeulen, rugbyorganiseerder by Hoërskool Despatch.

Vanaf die afskop het die skole se groot kanonne harde kompeterende rugby gespeel. Teen rustyd was die telling gelyk (7-7).

In die tweede helfde het beide spanne alles wat in hul arsenaal was gebruik. Voor Despatch hul oë kon uitvee, was Brandwag voor met ‘n gemaklike telling van 19-7.

Despatch het teruggeveg, aangeval en uiters goeie dissipline gewys en kort voor die einde was die telling 19-14.

Despatch het geduldig hul wedstrydplan uitgevoer en Tiaan de Klerk se gelykop drie is verdoel deur Corne Boland. Die eindfluitjie het geblaas en Despatch wen vir die eerste keer in 24 jaar teen Brandwag. Die eindtelling: 21-19.

Alle rugbywedstryde van die dag was in goeie gees gespeel met kompeterende rugby en asemrowende ondersteuning van die gemeenskap.

In die eerste wedstryd van die dag het Despatch se o.14Bs Brandwag geklop. Daarna was dit opdraende vir Despatch se ander spanne wat swaar gelewe het teen goed afge-rigte Brandwag spanne. Wedstryde was deurlopend geken as aanskoulik en kragmetings het in goeie sportmangees geskied.

Beide skole word bedank vir die goeie gees waar sportmanskap en rugby geseëvier het. Die gemeenskap word ook bedank vir hulle getroue ondersteuning.

You need to be Logged In to leave a comment.