DESPATCH Opskop en Skouspel, wat die einde van Oktober gehou sou word, is uitge-stel na vroeg volgende jaar.
Die organiseerders het dié aankondiging Dinsdag op sosiale media gedoen.
“Dit was ’n moeilike besluit. Die rede vir die besluit is omdat Gertjie de Jager, ’n mede-organiseerder en deelnemer aan die fees, se drie-maande oue dogtertjie Leah ernstig siek is,” sê Chezane Steynberg, skakelpersoon van die Despatch Opskop en Skouspel.
Daar is op sosiale media aangekondig dat die fees “uitgestel gaan word na 29 en 30 Maart 2019 en dat alles oorgedra word. Borge, stalletjiehouers, sangers … ons vra die gemeenskap ASB om te bid soos julle nog nooit gebid het nie, hoop almal verstaan …”
Belinda van der Bank, een van die hoof- organiseerders sê, “dit gaan nou oor Gertjie, sy vrou Lezaan en klein Leah, nie oor ’n fees nie. Gertjie is ’n gemeenskapsman en ’n ou wat nog altyd reël en help reël om fondse in te samel vir mense in nood. Nou is hy in nood en ons almal wil help.
“Ons is bitter baie lief vir hom, sy vrou en klein Leah.”
Van der Bank sê hulle is intussen ingelig dat die aanvanklike uitstel-datum waarop hulle die fees wou hou (29 & 30 Maart 2019) nie geskik is nie.
“Dit is moeilik om nou ’n geskikte datum vas te stel, maar ons sal die fees netso, met sangers, borge, stalletjies en alles oorskuif na iewers in Februarie of Maart volgende jaar.
“Wat wonderlik is, is dat almal verstaan en wil help. Meeste van die stalletjiehouers het gesê hul skenk hul depositos aan Gertjie-hulle. Selfs van ons borge het donasies aan die De Jagers gegee,” sê Belinda.
Huis Najaar is die begunstigde van die Despatch Opskop.
“Ons het hulle ingelig oor die situasie en hulle verstaan en bid saam met ons vir Leah en Gertjie-hulle. Mense regoor die land en selfs in die buiteland het gebedsgroepe ge-stig vir klein Leah.”
Gertjie is ’n bekende radio-omroeper en sanger en sou tydens die Despatch Opskop sy debuut as rofstoeier gemaak het. Hy sou aan die Xtreme Wrestling Entertainment se Rise of Champions V deelneem in ’n veldtog teen boelies.
Klein Leah het verlede week ernstig siek geword en toetse word tans op haar gedoen om vas te stel wat haar toestand veroorsaak. Die De Jagers het nie ’n mediese fonds nie en Leah is in die Dora Nginza-hospitaal.
Volgens Steynberg is daar ’n moontlikheid dat sy oorgeplaas mag word na die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad.