AANSKOULIKE sport bied ’n ver­bete stryd tussen die bestes en juigende ondersteuners in die paviljoene, maar met die twee dag lange nasionale oorplantingspele in Port Elizabeth het onderlinge kameraadskap die botoon gevier.

Daar was geen teken van “strydspanning” nie onder die sowat 80 deelnemers van oor die land heen wat in 13 sportkodes deelgeneem het – dít terwyl dié spele as een van die kwalifi­seringsrondes vir die 2019-Wêreldoorplantingspele gedien het.

En toe kom die reën ook nog op die Saterdag, kort nadat die skoot vir die 5 km-stapnommer geklap het. Onder groot aanmoediging vanuit die paviljoene en die ander atlete het die deel­nemers, naderhand sopnat, enduit gestap.

‘Ons doen ons bes’

Eenkant op die veld het die diskusgooiers en baanbeamptes ook die deurdringende reën getrotseer. Daar was selfs handdoekies om die diskusse mee af te droog.

Lynn Landman van Despatch, nieront- vanger, het skaars twee maande gelede met diskusgooi begin, sê sy afrigter, Nick Human.

“En hierso kom hy en breek die SA rekord in die ouderdomsgroep 40 tot 49, 2 kg-diskus. Die rekord is 21.4 m en hy het nou net 22.4 m gegooi!”

Landman glimlag skaam. “Ons almal doen maar net ons beste. Ek gaan ook nog gewigstoot en spiesgooi doen.”

Met sy helder oranje spykerskoene in die hand, gesels Stan Henkeman, hartontvanger, met dr. Heilie Uys, nierontvanger. ’n Skouerbesering hou dié oud­dosent in verpleegkunde as deelnemer uit die byeenkoms, dié dat sy daar is as amptelike fotograaf.

Dis seker jammer dat die reën alles kom onderbreek het?


Die reënbringers

“Nee,” antwoord Henkeman, wat van Kaapstad na die spele in die Baai gekom het, “hierdie spesifieke spele gaan nooit oor die individuele deelnemer nie, dit gaan altyd oor die groter geheel. In dié geval is dit die reën vir Port Elizabeth. Ons is bly ons kon die reën bring.”

Henkeman, ook die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Oorplantingsportvereniging (Satsa), verduidelik dat die atlete wat weens die reën nie kon deelneem nie, later vanjaar by ander kwalifiseringsbyeenkomste nóg ’n geleentheid sal kry.

“Almal wat vandag hier gekwalifiseer het, moet buitendien nog minstens een keer kwalifiseer,” verduidelik hy.

Die vorige dag, op die Vrydag, het talle oorplantingsatlete hul alles in onder meer swem, tafeltennis, muurbal, fietsry, pluimbal en die 5 km-hardloop gegee.

Die deurgaanse kameraadskap tussen die wedywerende atlete het skerp opgeval.

“Anders as in ‘gewone’ sportwedstryde is dit meer dankbaarheid in aksie vir die tweede lewe wat hulle gekry het,” verduidelik Uys met ’n breë glimlag.

“Elke tweede jaar kom ons atlete bymekaar wat orgaanoorplantings gekry het. Jy weet, voor hulle by daai punt kom, is hulle vir jare lank baie lank siek, daarom noem ons dit die Celebration of Life Games.

Word ’n skenker

Indien jy ’n orgaan- of weefselskenker wil word, is dit die beste dat jy dit heel eerste so aan jou familie en/of naasbestaandes oordra, sê Alice Vogt, wat al twee dubbele longoorplantings gekry het.

“Dit onthef jou familie van ’n baie moeilike besluit.”

Registreer ook as ’n skenker by die Orgaanskenkingstigting. Bel die stigting by die tolvrye nommer 0800 22 66 11 of besoek www.odf.org.za en/of Organ
Donor Foundation of SA (Facebook).

You need to be Logged In to leave a comment.