Nolan Di Paolo
Nolan Di Paolo was Despatch se groot ster met die kolf. FOTO: VERSKAF

Die Despatch-krieketklub het ‘n blink nuwe juweel, maar het pas bekend gemaak dat hy die klub einde van die jaar verlaat.

Hy is die 19-jarige Nolan Di Paolo, wat die afgelope seisoen die groot ster met die kolf was. Hy het die lopies behoorlik ingeryg. Daarom is dit geen verrassing dat hy die afgelope seisoen Despatch se voorste kolwer was nie.

Nolan Di Paolo
Nolan Di Paolo was Despatch se groot ster met die kolf. FOTO: VERSKAF

Nolan, wat tans ‘n onderwysstudent by die Laerskool Handhaaf in Kariega is, het in 2023 by die Hoër Tegniese Skool Daniel Pienaar gematrikuleer. Nadat hy verlede seisoen vir Union Uitenhage gespeel het, het hy dié seisoen sy gewig by Despatch ingegooi en hom onmiddellik as ‘n groot staatmaker bewys.

Al is hy die jongste speler in die span, was hy ook die onderkaptein en die kaptein in die semi-finaal teen PECC. Nolan, wat op nommer vyf kolf, het vyf vyftigtalle en 114, nie uit nie, teen Madibaz aangeteken. In 12 wedstryde het hy 656 lopies gemoker wat inderdaad ‘n merkwaardige prestasie is.

Nolan sê dit was sy beste seisoen tot dusver en wil graag sy konsentrasie verbeter om die spel beter te lees. Hy sê ook hy wil sy gemiddeld verbeter en meer konstante groot tellings behaal. Nolan sê hy het ook sedert gr. 7 by verskeie krieketklubs gespeel.

Hy behoort onder die pryswenners te wees wanneer die klub eersdaags sy jaarlikse bekeruitdeling hou. Dit lyk seker dat daar in die toekoms nog sommer baie lopies van dié belowende jong speler se kolf gaan vloei.

Ongelukkig is Despatch volgende seisoen sy dienste kwyt in wat as ‘n groot terugslag vir die klub beskou kan word. Nolan sê weens persoonlike redes sal hy nie volgende seisoen weer vir die klub beskikbaar wees nie.

You need to be Logged In to leave a comment.