SAKEPERSELE in Despatch se hoogliggende industriële area is stadig maar seker besig om te “versuip” en dit te midde van die ergste waterskaarste nog in Nelson Mandelabaai.
“Water loop nie opdraende nie. Die enigste water hoër as Despatch se industriële area is die reservoirs van Reservoir Hills, wat almal in gehawende toestande is met water wat dag en nag daaruit stroom,” sê Gerrit Rautenbach, eienaar van Symara Knitwear in Despatch se industriële area.
Dié klerefabriek is al vir 50 jaar daar gevestig en die afgelope 2 jaar is ’n stygende watertafel besig om sy strukture te verbrokkel.
“Die nattigheid kom al vir jare, maar dit het stelselmatig erger en erger geraak. Waarskynlik omdat waterlekke al groter raak en die watertafel al hoër word.
“Die watertafel is nou tussen 10cm en 15cm onder die gebou se vloere. Dit is baie erg en raak nou ’n krisis wat ons besighede se toe-koms kan beïnvloed.
“Daarby raak dit ’n gesondheids-risiko en gevaar vir ons werkers omdat die vloere konstant nat is. Daar is plekke in die gebou waar daar selfs ’n dun waterlaag is en ’n mens kan maklik daar gly en seer-kry,” sê Rautenbach.
Sowat 50 meter vanaf Symara Knitwear is Despatch Spares wat so erg onder syferwater deurloop dat elektriese toerusting nie meer binne die gebou gebruik kan word nie.
“Die risiko is te groot. As ons ’n hoekslypmasjien of ’n sweismasjien aansit skok dit jou,” sê Wesley van Rensburg van Despatch Car & Truck Spares.
“Dit is omdat die staalpype waarbinne elektriese bedrading loop deurgeroes is as gevolg van die water wat deur die vloere syfer.
“Ek het ’n gat in die vloer gegrawe waaruit ons daagliks sowat 60 liter water uitskep. Op bewolke dae of as dit reën is dit erger.
“Kyk hoe geroes is die motor- enjins wat hier lê, ons kan dit nie meer gebruik vir spaarparte nie.
“Ons watermeter staan doodstil, so dit is beslis nie ’n waterlek op ons perseel nie.”
Sy pa, Les van Rensburg, sê die waterprobleem het sowat 15 jaar gelede begin en dat die twee onbruikbare sportvelde langs Edisonstraat duidelike bewyse is daarvan. Vervolg op bl.2