DIE R10 miljard Florida Heights eiendomsontwikkeling langs Despatch is Dinsdag in ’n munisipale raadsvergadering goedgekeur deur die Nelson Mandelabaai se uitvoerende burgemeester, Mongameli Bobani, sowel as die burgemeesterskomitee en stadsbestuurder.
Gister om 10:00 het die sooispit-seremonie plaasgevind waartydens Bobani die eerste fase van dié omstrede ontwikkeling langs die Swartkopsrivier amptelik aangekondig het.
Die grond is in Maart 2016 beskikbaargestel na ’n ooreenkoms deur die departement van menslike nedersettings en die Sakhisizwe Trust, wat die ontwikkelaar is.
Die voorgestelde ontwikkeling se eerste fase bestaan uit ongeveer 741 huise, 107 HOP-huise en 106 gesubsideerde eenhede. Daar is ook voorsiening gemaak vir behuising vir oorlogsveterane. As deel van die ontwikkeling is daar ruimte vir kommersiële eenhede.
Lance Grootboom, ACDP raads-lid, bevraagteken die goedkeurings-proses en voer aan dat die ontwikkeling geweldige finansiële implikasies inhou vir die munisipale begroting.
“Ons is baie bekommerd want vrae oor die projek word nie beantwoord deur die burgemeester, speaker en stadsbestuurder nie.
“Die projek gaan die belastingbetaler omtrent R100 miljoen kos en dié geld was bedoel vir water-projekte,” sê Grootboom.
– HEILIE COMBRINCK