Dienslewering by die Despatch Dienssentrum het wiele-woema gekry danksy ‘n nuwe voertuig wat dié sentrum van die Nasional Lotteries Commission ontvang het.
Kotie Burger, voorsitter van ACVV Despatch sê hulle het al in 2006 aansoek gedoen by die nasionale lottery vir ‘n voertuig om die Despatch Dienssentrum se bejaardes te vervoer sowel as om etes by bejaardes te kan aflaai.
ACVV Despatch beskik oor drie onder- afdelings op die dorp naamlik Huis Najaar, die plaaslike kinderbeskerming en die dienssentrum.
“Uiteindelik het ons dié Caddy gekry! Ons as ACVV is baie dankbaar dat ons nou al drie ons afdelings goed kan bedien danksy die hulp van die Nasionale Lotery,” sê Burger wat al die afgelope 38 jaar voorsitter van ACVV Despatch is.
Ceriné Kleinhans, voorsitter van die Despatch Dienssentrum, sê die voertuig gaan handig te pas kom om bejaardes na die kliniek te neem en ook om die vroue van Nomzamo, ‘n sateliet-tak van die dienssentrum, in Khayamnandi te gaan haal.
“Die vroue besoek ons sentrum weekliks en woon aktiwiteite by soos trimgim, lyndans en verjaardagtee wat hier aangebied word,” sê Kleinhans.
Die dienssentrum, wat vanjaar sy 28ste bestaansjaar vier, bied weekliks godsdiensprogramme aan sowel as aktualiteitsprogramme, speletjies soos bingo en blokkies-raaisel, en daar word gereeld gebraai. Daar word ook jaarliks ‘n naaldwerk-kompetisie gehou en vier keer per jaar is daar uitstappies wat vir groot opgewondenheid sorg.
Bejaardes kan selfs hulle hare by die dienssentrum laat doen en daar is ‘n gekwalifi-seerde suster wat basiese dienste soos die neem van bloeddruk lewer.
Anna-Marie Griessel, organiseerder van Despatch Dienssentrum, sê daar is ongeveer 120 lede, maar nie almal is aktief betrokke by die aktiwiteite nie.
Mense van 60 jaar en ouer kan lede van die dienssentrum word. Die oudste lid is 92 en die meeste is in hul 70’s en 80’s.
Burger sê die hoofdoel van die dienssentrum is om die bejaardes aktief betrokke in die gemeenskap te probeer hou.
“As hulle by die huis sit, vereensaam hulle. Die dienssentrum bied vir hulle ‘n plek waar hulle kan deelneem aan aktiwiteite en sosialiseer. Die programme wat ons hier aanbied, voeg waarde toe tot hul lewens.”
Lede wat die dienssentrum besoek, is onafhanklik en woon nog in hul eie plekke.
“Die sentrum is ‘n een-stop fasaliteit vir ons bejaardes in ons gemeenskap. Al is hulle bejaard, is hulle jonk van gees.
“Hier kan hulle lekker gesels en kuier en daagliks ‘n gebalanseerde ete geniet. So, dit is die doel van die voertuig, om juis daardie mense, wat deel van die dienssentrum se aktiwiteite wil wees, te gaan oplaai,” sê Kleinhans.