AANLYNLIEFDES wat nog nooit in persoon ontmoet is of vir jare lank nie gesien is nie en groot bedrae geld vra om te kom kuier, is alles behalwe ’n liefde of moontlike romanse.
Sulke versoeke is pure swendelary. Vroue wat daarop reageer loop die risiko van ’n gebreekte hart en geld in die water.
In ’n onlangse voorval is ’n Uitenhage vrou deur ’n “ou skoolkennis” op Facebook gekontak en later het sy R20 000 in sy rekening be-taal vir sy beplande kuier. Die kuier het nooit gebeur nie en die geldvra was alles deel van ’n swendelary-plan.
Volgens polisiewoordvoerder kaptein Gerda Swart, was die “ou kennis” in die buiteland. Hy het aan die vrou gesê hy wil vir haar kom kuier maar die ambasade soek R15 000. Die vrou het die bedrag aan hom oorbetaal. Die volgende dag het hy gebel en gesê hy kort nog R5 000. Sy het dit ook inbetaal.
Vroue word gemaan om nie slagoffers van dié tipe swendelary te raak nie. Aanlyn-swendelaars spits hulle toe op hoofsaaklik middeljarige vroue. Dié bedrieërs doen hulle gewoonlik voor as ingenieurs, wewenaars met ’n kind en daar is altyd een of ander projek betrokke.
Wees ook versigtig oor watter tipe fotos en persoonlike inligting op sosiale netwerke gedeel word. Bedrieërs het toegang tot dié netwerke en kies hulle slagoffers op grond van wat op die platforms gedeel word.
-HEILIE COMBRINCK