Danny Jacobs vier vandeesmaand sy 70ste verjaardag.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Die Christadelphians is ’n “van toeka”-gospel sanggroep afkomstig van Kariega, bekend vir veral hul treffer album, Daddy, My Daddy.

In die 60’s was die Christadelphians saam met die bekende Ladysmith Black Mambazo doenig met opnames in die musiek ateljees onder die vaandel van Gallo Africa. Hierdie twee groepe was dan ook destyds die topverkopers van langspeelplate in die land met Gallo Africa.

Regdeur die land het die Christadelphians ’n positiewe impak gelewer en was ’n kulturele vaandeldraer vir acapella gospel musiek. Die musiek het ’n blywende bydrae gelewer in die geestelike en morele opheffing van die gemeenskap.

Aan die voorpunt van die Christadelphians, was persone soos Harold Malgas, Andrew Petrus, Doigie Roman, Arthur Roman, Chris Ressouw en Danny Jacobs. Danny, met meer as 50 jaar sangervaring, vier vandeesmaand sy 70ste verjaarsdag, en hierdie mylpaal gaan behoorlik gevier word.

Danny Jacobs, ’n mense-mens

“Danny het sterk leiding gegee om die groep oorsee te neem na Griekeland, Egipte en Israel. In stede soos Tiberius en Jerusalem het die groep sanguitvoerings gegee. Een van hul CDs, Live in Jerusalem is in hierdie heilige stad opgeneem,” vertel Christopher Ressouw.

“Danny is ’n mense-mens en het, onder andere, diep spore in die onderwys getrap. Hy was skoolhoof van die Hoërskool St Colmcille, asook skoolhoof van Despatch Primêr, tot en met sy uittrede. Benewens sy sangloopbaan, is hy ’n storieverteller en komediant van formaat en vertel graag staaltjies rondom ‘die wederkoms van kroeshare en die warmkam’.”

Jacobs die aanbieder van programme en vertonings van die Christadelphians asook ander instansies.

Ressouw vertel dat Jacobs se grootwordjare in Kabah en Blikkiesdorp baie eenvoudig was.

“Hier was hy egter in die dampkring en invloed van musiek guru’s soos Johnny Dennis, Victor Grimsel, oom Freek Simon, Sally Arnolds, die Colemans, Arthur Bala, die Burkes en Joey Moses.”

Danny se verjaarsdagvieringe sluit in: Oordenking en Danksegging op Donderdag, 30 November; ’n formele dinee op Saterdagaand, 2 Desember by die VW Pavillion; en ’n Gospel sangaand op Sondagmiddag, 3 Desember om 14:30 in die Uitenhage Stadsaal.

– UITGEREIK DEUR DIE CHRISTADELPHIANS

You need to be Logged In to leave a comment.