DIE buurtwag van Van Riebeeckhoogte/Valleisig is weer volstoom aan die gang en nooi inwoners van dié buurte om aan te sluit en saam die stryd teen misdaad aan te pak.
Die buurtwag is onder nuwe bestuur met Andrew Stark as voorsitter, Yvonne Randall (administrasie), Louis Esterhuizen (skakelpersoon), Wyona Louw (administrasie-assistent) en ’n permanente paramediese-assistent as deel van die buurtwag.
“Ons het tans 13 lede en 6 voertuie wat gebruik word om te patrolleer. Die oudste lid is Mike Randall (65) en die jongste is Boeta Esterhuizen (11),” sê Louis.
“Dit is vrywilliglik. As ’n laaitie van 11 gewillig is en dit geniet om saam te ry en met die flitslig uit te kyk vir skelms, kan volwassenes vir seker ons hande sterk maak om ons veiligheid op te skerp.”
Yvonne sê daar is baie huise en strate in die twee woonbuurte en die handjievol patrollie-lede doen hul bes, maar hoe meer mense deel word, hoe meer effektief sal die buurtwag wees.
Volgens Louis is die “erkenning en dankies wat ons kry ’n lekker boost. Dit vat baie van ’n mens se energie en slaap is min, maar ons doen dié patrollies vir ons huisgesinne, ons bure, vir almal wat in die woorbuurte bly.”
Die buurtwag is in die proses om tweerigtingradios te kry en hulle het ’n patrollie-noodgroep op WhatsApp waarop lede onmiddellik reageer sou daar nood wees.
Die buurtwag werk nou saam met die Uitenhage polisie, Atlas en ander sekuriteitsmaat-skappye.
- Vir meer inligting oor die Van Riebeeckhoogte/Valleisig buurtwag bel Yvonne by 062 601 3996.