DIE hoofmeisie van die Hoërskool Brandwag, Chanri Strydom, is die Oos-Kaap se matrikulant van die jaar vir 2018.
Die Oos-Kaap se weergawe van die matrikulant van die jaar-kompetisie word deur The Herald en Absa aangebied en is die oudste van sy soort in die land. Om in aanmerking te kom, moet ’n kandidaat ’n veelsydige leier wees met uitstaande prestasies in akademie, kultuur, sport en gemeenskapsdiens.
Chanri, wat sedert graad 8 die toppresteerder in haar jaargroep is, het ook die akademie-kategorie gewen. Sy is ’n provinsiale netbalskeidsregter en het verskeie kere Oos-Kaap-kleure vir netbal verwerf.
Gedurende haar hoërskoolloopbaan was sy die kaptein van elke netbalspan, skool en provinsiaal, waarin sy gespeel het.
Soos dit ’n leier betaam is Chanri ’n kranige spreker wat as redenaar en debatteerder presteer het. Sy is ook ’n lid van die Alpha Leo-klub, vroeër bekend as die junior stadsraad.
Chanri is Brandwag se tweede wenner in twee jaar nadat Andre Conradie in 2016 die medewenner saam met Rebecca Thembi Mqamelo van Clarendon Girls High was. André het óók die akademie-kategorie gewen.
Nog ’n Brandwagter, Martelize Kruger, was ook ’n finalis in The Herald/ABSA Matric of the Year 2018. Martelize was ook een van net 14 finaliste in die Volksblad/UV se Matriek van die Jaar-kompetisie.
Chanri beoog om volgende jaar medies aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer, terwyl Martelize gekeur is vir optometrie aan die Universiteit Vrystaat.
Muir College het saam met Brandwag die Uitenhage-Despatch omgewing se naam hooggehou deur ook twee finaliste, Timilehin Aderibigbe en Sibabalwe Mbini, op te lewer.