DIE doppies is geweeg, maar nié te lig bevind nie.
Skole in Port Elizabeth en die omringende omgewing het meer as 3 ton plastiek in die doppie-uitdaging ingesamel en die wenners is onlangs aangekondig.
Timber Solutions, ’n maatskappy wat herwonne plastiek vir meubels en ander items gebruik, het vanjaar vir die vierde keer die skolekompetisie in die Nelson Mandela-metropool geloods.
Deelnemende skole is uitgedaag om botteldoppies, soos dié wat ’n mens op ’n koeldrankbottel kry, in te samel.
Quest School for Autism in Port Elizabeth is die skool wat die meeste plastiekdoppies ingesamel het. Hulle het 639,1 kg doppies ingesamel. In die tweede en derde plekke is skole van Uitenhage.
Die Hoërskool Brandwag is met 595,5 kg doppies in die tweede plek en die Laerskool Albertyn is derde met 528,7kg doppies.
Albertyn het ook verlede jaar die derde plek in die kompetisie behaal.
Vir hul moeite ontvang elkeen van die skole bankies wat uit plastiek vervaardig is.
Quest kry ’n 6-sitplek tafelstel ter waarde van R5 200. Brandwag ontvang ’n 4-sitplek tafelstel ter waarde van R4 400 en Albertyn kry ’n 3-sitplekbankie ter waarde van R2800.
Die pryse sal aan die begin van die nuwe skooljaar aan die skole oorhandig word. Volgens Linda Heymans, mede-eienaar van Timer Solutions Port Elizabeth, is sowat 500 doppies nodig vir ’n enkele kilogram plastiek. ’n Massiewe hoeveelheid koeldrankdoppies het dus vanjaar saam met leerlinge skool toe gegaan om herwin te word.
Volgens Heymans het meubels wat uit herwonne plastiek vervaardig is, verskeie voordele. Dit help om die omgewing skoon te hou, het geen onderhoud nodig nie en hou ongeveer sestig jaar.
Heymans sê alhoewel die skole se insamelings materiaal verskaf vir meubels wat verkoop word, dra Timber Solutions op verskeie maniere by tot die gemeenskap en ondersteun op hul beurt weer ’n hele klomp gemeenskapsorganisasies. Een van die grootste voordele van die kompetisie is egter dat dit kinders van ’n jong ouderdom af bewus maak van die belangrikheid van herwinning.
-MEDEWERKER