Bosluiskoors eis Uitenhage-vrou se lewe

’n Vrou van Uitenhage is aan bosluiskoors dood, het die lykskouingsverslag bevestig.


’n Vrou van Uitenhage is aan bosluiskoors dood, het die lykskouingsverslag bevestig.

Erlene van der Merwe (66) is op 12 November ná ’n kort siekte in die Netcare Cuyler-hospitaal dood. ’n Bosluis het haar vermoedelik net ’n week tevore gebyt.

Volgens haar kleindogter Colleen Evert is haar ouma op 8 November met koors en hoofpyn in die hospitaal opgeneem.

Van der Merwe het ook gesukkel om haar ledemate te beweeg. Sy het ’n bytmerk aan haar linkerbors gehad. Dié bytmerk was glo nie daardie vorige Maandag tydens ’n onverwante ondersoek teenwoordig nie.

Dokters het aanvanklik vermoed sy is deur ’n spinnekop gebyt, maar bloedtoetse het later bevestig dat dit ’n bosluis was.

Volgens Evert het bloedtoetse die Sondag nadat sy in die hospitaal opgeneem is, gewys dat haar ouma se infeksietelling laer is, maar Maandagoggend vroeg het sy in ’n koma verval. Verdere toetse het gewys haar niere en lewer het ingegee. Sy is later daardie oggend dood.

Evert sê haar ouma was oor die algemeen ’n gesonde mens.

“Die enigste plek waarheen sy gegaan het, was die Strelitziadam saam met haar twee honde. Dit is die enigste plek waar sy deur die bosluis gebyt kon word.”

Evert sê hul familie wil nie hê drastiese stappe moet gedoen word soos die sluiting van die dam vir besoekers nie; hulle wil eerder die inwoners teen die gevaar van bosluise daar waarsku.

“Ons glo die bosluise kom van die loslopende beeste in die dorp wat op erwe en by die damme wei – dít is die probleem wat ons het. Niks word daaraan gedoen nie en dit gebeur voordurend oor die hele Uitenhage heen.”

Pieter Terblanche, ’n plaaslike raadslid, sê hy het ook die bewyse gesien dat bosluiskoors Van der Merwe se dood veroorsaak het. Hy het die aangeleentheid nou na die Nelson Mandelabaai-metro se direktoraat vir die omgewing verwys en hy wag vir terugvoering.

“Ek verstaan die inwoners is nou in rep en roer oor die loslopende diere wat vermoedelik bosluise afgooi, maar ons wag nog vir terugvoering oor ’n plan van aksie.”

Terblanche sê hy is van plan om binnekort ’n vergadering met die plaaslike, opkomende boere te hou om vas te stel hoe gereeld hul beeste teen bosluise behandel word.

’n Woordvoerder van die boere kon nie gister vir kommentaar bereik word nie.

Mthubanzi Mniki, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê dit is te vroeg om te sê die loslopende beeste in Uitenhage is alleenlik die bron van die bosluise, aangesien huisdiere en wild ook bosluise dra.

“Die direktoraat vir omgewingsgesondheid se ondersoek sal inligting verskaf oor die stappe wat gedoen moet word.”

Mniki sê die direktoraat vir menslike nedersettings werk tans daaraan om grond vir gemeenskaplike boerderye beskikbaar te stel.

Ondanks gerugte van nog twee mense wat aan bosluiskoors in Uitenhage dood is, het dr. Brian Mbhele, ’n internis van die Cuyler-hospitaal, by navraag gesê hulle het geen styging in die gevalle van bosluiskoors gehad nie.

Dr. Marne Page van dié hospitaal se ongevalle-afdeling het bevestig daar was pasiënte wat onlangs vir vroeë simptome van bosluiskoors behandel is, maar hulle is nie opgeneem nie.

Mbhele sê simptome om voor uit te kyk, is gewrigspyn, koors en bewerasies. Hy sê indien iemand ’n bytmerk aan hul lyf ontdek of die simptome ervaar, moet hy of sy so gou as moontlik by ’n dokter uitkom.

You need to be Logged In to leave a comment.