TWEE met een klap … dit is wat die ATKV-Jeugtak van Hoërskool Despatch beplan wanneer hulle twee van die dorp se befaamde dominee-skrywer se nuutste boeke by ’n boekekuier gaan bekendstel.
Dié boekbekendstelling/kuier waar Jan Vermeulen se twee nuutste boeke, Soen en Die Vyfde Aspoester die middelpunt van belangstelling gaan wees, word op Woensdag, 1 Augustus om 19:00 in die skoolsaal gehou.
Benewens Vermeulen se woordkuns is hy ook skilder én beeldhouer. Dié man van vele talente het nou al meer skrywerspryse gewen as die hoeveelheid boeke wat hy geskryf het.
Hy het gedebuteer met ’n grensroman, Die laaste dans (1998), toe verskyn sy trefferboek en eerste jeugroman, Geraamtes dra nie klere nie (2000), waarvoor hy ’n Sanlamprys (goud) ontvang het sowel as die MER-prys, Scheepersprys en ATKV-kinderboektoekenning.
Sy kortverhaal In Ma se Stoof is opgeneem in die kortverhaalbundel Van Spoke Gepraat. Daarna volg Asem (2016) waarvoor hy ’n Lapa eerste prys ontvang het en toe volg Soen (2017) met ’n Sanlamprys (silwer).
Vermeulen se volwasse roman, Die Vyfde Aspoester, is ’n sielkundige spanningsriller.
Mense wat die boekekuier wil bywoon is welkom.
- Toegang is R30 per persoon en sluit ligte verversings in. Kaartjies is beskikbaar by Kosie Smit 082 875 6911 of 082 670 1686.