BERGSIG Spesiale Skool vier vanjaar sy 60ste bestaansjaar.
Verlede naweek is dié mylpaal-reünie gehou en dit het begin met die Stigtingsdag-vieringe, waartydens ’n oudleerder, Levi van Heerden, sy suksesverhaal met die huidige leerders gedeel het.
Saterdagaand was die hoogtepunt toe ongeveer 300 oud-leerders en onderwysers in die skoolsaal gekuier en staaltjies gedeel het. Amanda Bosman wat baie jare leiding geneem het met die oudleerdersbond is op gepaste wyse bedank met ‘n waardevolle skildery, gemaak deur een van Bergsig se huidige kuns-leerders.
Die 60ste bestaansjaarvieringe is Sondag-oggend afgesluit toe oudleerder Basie de Lange ‘n spesiale kerkdiens in die koshuis gelei het.
Bergsig beginjare
Bergsig is in 1958 begin met ‘n skoolhoof, mnr. J.A.J Bester, 7 onderwysers en 26 leerders. Die ou Queen Mary Hospitaal, waar Food Lovers Market (ou Fruit & Veg) vandag is, was vir die eerste 14 jaar as skool gebruik.
Leerders word onderrig in 4 ambagte en 3 akademiese vakke. Teen 1969 het die leerdertal verhoog tot 230 leerders.
Die huidige skoolgebou in Ross Gradwellstaat, is op 2 Mei 1975 amptelike geopen en mnr. M.L. Swart word kort daarna as Bergsig se volgende skoolhoof aangestel.
Slegs 8 jaar later, in 1985, word mnr. J.N. Ollewagen aangestel as Bergsig se derde skoolhoof.
Nuwe ambagte word geimplementeer; ’n klubhuis en ‘n pawiljoen word gebou; en Bergsig bied ‘n oorbruggingskursus aan vir leerders wat die N1-kursus wil volg na Graad 10.
Op 1 September 2002 word Deon Wolmarans Bergsig se vierde skoolhoof. Op akademiese gebied word Uitkomsgebaseerde Onderrig geimplimenteer en later vervang met die CAPS-benadering.
Tegniese vakrigtings brei uit totdat daar tans 12 verskillende ambagte aangebied word. Bergsig se leerdertal vermeerder tot 619 in 2018. Die department keur ‘n gunstige 48 onderwysposte goed.
Aan die einde van 2017 het altesaam 5 086 leerders sedert die begin van dié skool hul skoolloopbane by Bergsig voltooi.
Op sport- en kultuurvlak het verskeie Bergsig-leerders die hoogste sport bereik.
Altesaam 140 leerders het die afgelope drie jaar Bergsig op nasionale vlak verteenwoordig.
Bergsig se leuse is: Die wyse persoon kyk vooruit.
Die skool se span toegewyde onderwysers en leerders wat hul potensiaal ontwikkel en geleenthede aangryp, leef dié leuse elke dag uit.