‘Arrogante’ koperdiewe saag kragpaal af

KOPERDIEWE het behoorlik kat-en-muis ge-speel met die polisie en werkers van ’n staalfabriek in die Kruisrivier-industriële area, in ’n poging om hulle hande op die koper te kry, na-dat hulle ’n kragpaal afgesaag het.


KOPERDIEWE het behoorlik kat-en-muis ge-speel met die polisie en werkers van ’n staalfabriek in die Kruisrivier-industriële area, in ’n poging om hulle hande op die koper te kry, na-dat hulle ’n kragpaal afgesaag het.

Beeldmateriaal wat aan die UD Express verskaf is, wys hoe drie persone op Maandag, 10 September by ’n kragpaal staan sekondes voor die paal die grond tref en die area verlig word deur elektriese vonke.

Die tydsverloop van die diewe se heen-en-weer is as volg:

22:43 Kragpaal val – koperdiewe hardloop enkele meters weg

22:45 Werkers met brandblussers hardloop uit fabriek – drie koperdiewe vlug na die bosse

22:54 Eerste polisievoertuig arriveer

23:08 Tweede polisievoertuig

23:11 Derde polisiervoertuig.

23:39 Laaste polisievoertuig verlaat die toneel

23:55 Koperdiewe kom terug

23:56 Werkers kom wéér uit en die diewe vlug

23:56 Polisie keer terug na die toneel.

“Dié ouens is bang vir niks. Nadat die polisie hier weg is, het hulle wraggies teruggekom uit die bosse en kom vat wat hulle wou hê,” sê Ginkel Venter van Uitenhage Super Steel in die Kruisrivier industriële area.

“Die kragtoevoer was geweldig swak in die proses wat die kragpaal geval het. Dit veroorsaak gewoonlik groot skade aan enige toestel wat aan die elektrisiteit gekoppel is. Sover lyk dit of al ons fabrieksmasjienerie gelukkig geen skade het nie.”

Daar is aan twee ander kragpale ook gesaag, maar hulle het nie omgeval nie. Industrië in dié area sowel as die Uitenhage & Distrik Dierebe-skermings-vereniging was vir byna twee dae sonder krag.

Uitenhage polisiewoordvoerder, kaptein Gerda Swart sê, “daar is ‘n saak van opsetlike saakbeskadiging geopen wat tans ondersoek word.

“Die diefstal van en/ of beskadiging van kragkabels word gereeld aangemeld en is nie net tot Uitenhage beperk nie. Telkom-kabels word ook gereeld gesteel.”

Die munisipale woordvoerder, Mthubanzi Mniki sê, “dit wil voorkom of daar ’n toename is in koperdiefstal in die Nelson Mandela-metropool. Veral substasies loop erg deur onder dié diewe.

“Alhoewel die Nelson Mandelabaai Munisipaliteit beperkte personeel in hul sekuriteits-afdeling het wat dié koperdiefstal ondersoek, is daar planne om meer progressief op te tree.

“Skade van miljoene rande word maandeliks in die metropool aangerig weens koperdiefstal,” sê Mniki.

Venter sê die probleem met die koper- en staaldiewe is dat hulle geen vrees het nie en al meer arrogant raak in hul pogings om dié materiaal in die hande te kry.

  • Beeldmateriaal van die Kruisrivier-koperdiewe kan op die UD Express Facebook gesien word.

You need to be Logged In to leave a comment.