ALLE soorte wiele, van fietswiele, motorfiets tot motors en bakkies, gaan op 29 September rol vanaf Despatch tot by die eindbestemming, Uitenhage Dierebeskerm-ingsvereniging.
“Diere lê ons almal na aan die hart. Die DBV doen ongelooflike werk in ons gemeenskappe. Nou het húlle ons hulp nodig en ons vra mense vir skenkings van honde- en katkos sowel as kom-berse of enige ander goed wat die DBV nodig het,” sê Natasha Erasmus van Budget Bicycles op Despatch, wat deel is van dié DBV Wieledraai.
Die konvooi trek op Saterdag, 29 September om 08:00 weg by Budget Bicycles in Môresonstraat 8, en sal ’n kronkelroete volg deur die dorp en by verskeie versamelpunte stop om donasies van honde- en katkos op te laai. Dit sluit versamelpunte op Uitenhage in, voordat hulle dan met al die skenkings na die DBV ry.
Die konvooi sal begelei en ondersteun word deur offisiere van die plaaslike verkeersdepartement.
“Ons nooi die publiek uit om deel te wees van die konvooi. Hulle kan inval en uitval waar hulle wil. Al wat ons vra is ’n dierekos-donasie as hulle deelneem,” sê Natasha.
Johan Oosthuizen van Fuel On Wheels sê, “dit is ongelooflik. Toe ons hoor ons DBV trek swaar, het ons met ’n spoed ingespring en almal het dadelik ingestem om deel te wees!
“Dit gaan een groot konvooi wees met ’n ‘dankie-sê-partytjie’ die aand by die Danskraal op Uitenhage. Almal wat, soos ons, omgee vir diere én dankbaar is vir wat die DBV vir diere doen is welkom,” sê Oosthuizen.
- Vir meer inligting bel Natasha by 079 819 3322 of Johan Oosthuizen (Fuel on Wheels) 062 668 5745.