TUISVERSORGING is ’n diens wat al meer in aanvraag is. YMCA Uitenhage het dié behoefte in die gemeenskap raakgesien en kursusse begin aanbied om versorgers te bekwaam om verswaktes of bejaardes tuis te versorg.
Twee afgetrede verpleegsusters, suster Esmarelda Wannies wat voorheen in ’n pediatriese-eenheid werksaam was en suster Denica Arries wat vir 34 jaar in die intensiewe eenheid gewerk het as-ook in die nier-eenheid, is verantwoordelik vir die tuisversorging opleiding.
“Die opleiding bied studente ’n goeie basis en berei hulle voor om te weet wat om te doen wanneer hulle vir praktiese opleiding uitgeplaas word,” sê suster Arries.
“Jou pasiënt is jou eerste prioriteit. Daarom leer ons hulle belangrike basiese handelinge soos hoe om ’n pasiënt te vat, hoe om hulle op te lig en om te draai. Wenke soos buig jou knieë … hou jou rug regop en tel tot drie … as jy dit nie reg doen nie kan jy en die pasiënt seerkry.”
Suster Wannies sê na jare in die verpleegprofessie raak die basiese handelinge tweede natuur. Daarom moet dit van die begin af reg aangeleer word.
“Aspekte soos hoe om ’n pasiënt te voer, hoe om hulle te was, aan te trek, die voorkoming van bedsere en algemene observasies is baie belangrik.
“Soms gebeur dit dat ’n mens uit die hospitaal ontslaan word, maar nogsteeds versorging nodig het. Familielede het nie altyd die kennis nie of is nie in staat om die versorging te doen nie. Dit is waar ons tuisversorgers dan inkom en hul rol vervul,” sê suster Wannies.
’n Matrieksertifikaat is nie ’n vereiste om die tuisversorgingskursus te doen nie. Die oorwegende faktore is belangstelling in versorging van verswaktes of bejaardes, geduld en die bereidheid om lang ure te werk.
Die tuisversogingkursus word ook aangebied om jeugdiges in die arbeidsmark te kry.
Felicia Japhta, ’n groepleier van die tuisversorgingstudente sê dit is haar hartsbegeerte om ’n suster in ’n gespesialiseerde eenheid te word.
“Tuisversorging is vir my die eerste stap nader aan my ideaal. Nou kan ek voortbou om my droom te laat waar word,” sê Felicia.
“Die kursus het my baie geleer, ek weet nou van siektes en toestande wat ek voorheen nie eers geweet het bestaan nie. Veral die praktiese ondervinding is lewensnoodsaaklik vir dié beroep.”
Goleen Peterse, nog ’n groepleier sê verpleging lê haar na aan die hart, maar dit was finansieël nie moontlik vir haar om te gaan studeer nie.
“YMCA Uitenhage het dit vir my moontlik gemaak om my passie, om mense te kan help, nou uit te leef.”
Volgende kursus
Die volgende tuisversorgingkursus begin Junie by die Rosedale Ontspanningsaal en dit behels ’n week se opleiding waarna die studente vir ’n maand uitgeplaas word om praktiese ondervinding op te doen.
- Vir meer inligting bel Charles Anthony by 073 242 4133 of Suster Arries by 083 455 8129.