BOLLEMAKIESIE met ’n 4×4 voertuig! Ja, 360 grade in die lug om weer op vier wiele te land, is wat Saterdag aangepak gaan word by die jaarlikse BLG Wings & Wheels aksiebelaaide buitelugfees op Uitenhage.
“Dit sal ’n eerste in Suid-Afrika wees waar die televisiekameras gaan rol terwyl ’n 4×4 voertuig teen ’n vraghouer opry in ’n poging om agteroor te tuimel en weer op sy wiele te land,” sê Karel Spangenberg van Eastern Cape 4×4 Challenge Club.
Lukas Holtzhausen, Suid-Afrika se voorste 4×4 ekstreem-uitdaging-deelnemer het dié truuk probeer maar kon net-net nie die 360 grade voltrek nie. Hy het ongedeerd daarvan afgekom, maar die 4×4 voertuig nie.
“So, noudat Lukas se voertuig uit is, gaan ek en Jacques Swarts dit probeer en hopelik land ons op ons wiele om verder te kan ry.
“’n Voertuig moet teen ’n spoed van onge-veer 20km/h teen die helling van 45 grade opry. Die helling word 90 grade en kraglewering moet die momentum gee om die voertuig te laat omtuimel,” sê Spangenberg, wat met sy Total Chaos kragmonster dié 4×4 bollemakiesie gaan aanpak.
Dié waaghalsige truuk is deel van die Römer Extreme 4×4 uitdaging wat deur Eastern Cape 4×4 Challenge Club by die Uitenhage-vliegveld aangebied word.
Deelnemers aan die interklub-byeenkoms kom van regoor die land en sluit klubs in soos Eastern Cape 4×4 Challenge Club, George Rebel Club, Wildebeest uit die Wes-Kaap, Grens, Crockerts Hope en klubs van Johannesburg. Daar is ook deelnemers wat nie aan klubs behoort nie.
“Daar is wilde walle. Al die uitdagings op die baan is nuut. Van die gate is so diep ons is net duskant Sjina. Die quarter pipe is massief, dit is nou ongeveer 15 meter hoog waaruit die voertuie moet kom. Dit is baie wild, maar ons sien uit, dit gaan lekker wees,” sê Spangenberg.
Dié 360 grade 4×4 bollemakiesie gaan Saterdag om 12:00 en weer om 15:45 aangepak word. Die ekstreem-uitdaging-kompetisie begin reeds om 08:00 en 70 voertuie het reeds ingeskryf.
Ander aktiwiteite van die dag sluit in ’n verskeidenheid vliegtuie wat besigtig kan word, vliegtuig- & helikopterritte, kunsvliegvertoning deur Patrick Davidson (12:00), valskermspronge, motorklubs, motorfietsklubs, motorfietswaaghalse (10:30 & 15:00), ’n klankkompetisie, kosstalletjies en musiek.
Die hekke open om 08:00 en verskeie plaaslike sangers sal deur die dag optree met die nasionale kunstenaars wat vanaf 17:00 gehoor gaan word. Hulle is Wicus van der Merwe, Demi Lee Moore, Monique Steyn, Elizma Theron en Kurt Darren.
1
2