30 Dae uitdaging: ‘Maak ’n verskil’

INWONERS van Despatch, Kirkwood en Uitenhage word aangemoedig om aan die Pay it Forward uitdaging deel te neem, waar daar oor ’n periode van 30 dae, daagliks ’n eenvoudige welwillendheidstaak is om uit te voer.


INWONERS van Despatch, Kirkwood en Uitenhage word aangemoedig om aan die Pay it Forward uitdaging deel te neem, waar daar oor ’n periode van 30 dae, daagliks ’n eenvoudige welwillendheidstaak is om uit te voer.

Dit is deel van die Christusfees en begin om 20 April en duur tot 19 Mei. Die volledige lys van take sal op sosiale media beskikbaar wees en ook weekliks vanaf 19 April in die UD Express gepubliseer word.

“Die projek gaan om van jouself vir iemand anders te gee. Dit is die klein eenvoudige dingetjies, wat ons baie keer nie doen of sê nie, wat ’n verskil aan ’n ander mens se lewe kan maak,” sê Lizé Saunders, ’n mede-organiseerder van die Pay it Forward Christusfees.

“Dit gaan nie daaroor om geld te gee nie, maar om goed te doen. Soos om ’n koppie koffie vir iemand te maak, om iemand te bemoedig, bloed te skenk, rommel in jou straat op te tel, om iemand te vergewe, om ’n plaaslike besigheid te komplimenteer vir goeie diens en nog 24 ander take om tot en met 19 Mei te doen.”

Skole op Despatch, Kirkwood en Uitenhage gaan ook betrek word by optredes en om op ’n spesifieke dag ’n boom te plant. Leerders betrokke sal versoek word om na dié boom om te sien.

Die plaaslike besighede Despatch Superspar, Levyvale Superspar op Uitenhage en Dagbreek Spar op Kirkwood word ook betrek as afsetpunte van donasies vir die Uitenhage Dierebeskermingsvereniging sowel as skenk-ings van klere, komberse of nie-bederfbare kosse vir behoeftige mense.

“Die 30ste dag se taak is ’n dag waarop mense gevra sal word om te bid. Gebed verander dinge en hoe meer mense aan die Pay it Forward deelneem én bid, hoe meer is ons verseker dat dié projek ’n verskil sal maak,” sê Lizé.

Ander aktiwiteite

Na die 30 dae Pay it Forward uitdaging, gaan die projek voort met bediening deur Oom Karolus en Lente by laerskole terwyl Onbeskaamd by hoërskole gaan optree.

Motiveringspreker Lizette Janse van Rensburg gaan ouetehuise besoek en ’n vrouetee met Wanda Bam as gasspreker word op Despatch gehou. Gospel-aande gaan op Despatch sowel as Kirkwood gehou word. Die Pay it Forward Christusfees sluit af met ’n diens deur geestelike sanger Danie Botha.

Die projek word georganiseer deur die geregistreerde nie-winsgewende organisasie Chadah Ministries International.

  • Vir meer inligting bel Lizé Saunders by 082 788 1201, Sonja du Preez (voorsitter) 079 337 1840 of gaan kyk op die Payitforwardchristusfees Facebook-blad vir volledige inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.